Sakeman Johann aan die stuur van Impala 157 Tafelaars

Johann Prinsloo, nuutaangestelde president van Tafelrondte Impala 157, glo finansies moet jou nooit keer om 'n verskil in iemand anders se lewe te maak nie.

POLOKWANE – Dié pa van ‘n eenjarige peuter verduidelik die ideale Tafelaar is iemand met liefde vir ander en wat lojaal teenoor sy mede-taffelaars en die gemeenskap is. “Hy moet bereidwillig wees om te help en beskikbaar en verantwoordbaar wees.”

Johann het onlangs gekwalifiseer as professionele rekenmeester en is reeds vyf jaar deel van die Tafelrondte. Hy tree graag op in ‘n raadgewende rol vir jong opkomende besigheidsmense waar hy hulle help met finansiële beplanning en om die regte besigheidsbesluite te maak.

“In 2018 het Walter Groenewald my genooi om ‘n Tafelrondte-vergadering by te woon. Ons het mekaar nie geken nie, maar in dieselfde omgewing gewerk waar ons mekaar af en toe raakgeloop het. Ek het nog altyd ‘n groot liefde vir gemeenskapsdiens, veral vir bejaardes in ouetehuise en kinders. Ek sal graag meer by kinders betrokke wil raak.”

Johann verduidelik enige man tussen 18 en 40 jaar kan deel raak van die Tafelrondte maar die gemiddelde aansluit ouderdom is 25 jaar. Hulle het verskeie projekte waarby hulle betrokke is soos om gereelde bloedskenk-uitstappies na die bloedbank te neem.

“Ons wil ook graag vanjaar ‘n groot geleentheid hou met gaskunstenaars en ‘n wynveiling. Die gewilde A la Carte byeenkoms en Winter Knights is ook in die pyplyn.” Die organisasies wat geld of produkte by die Tafelrondte ontvang sluit in Meals on Wheels, Ivydale Shelter, Vision of Hope, Ons Tuiste en Regaugetswe Old Age Day Care in Seshego.

Johan se pligte as president sluit in om vergaderings te bestuur, projekte en nood in die gemeenskap te identifiseer en bywoning van verskillende vergaderings in die organisasie. Hulle kom twee keer ‘n maand bymekaar, een keer om vergadering te hou en die volgende keer om sosiaal te verkeer. Hulle vroue staan bankvas agter hulle en help met projekte. Eenmaal ‘n jaar word hulle bederf met ‘n aand uit of ‘n naweek weg.

“Ons lede is nie noodwendig professionele mense nie, maar hulle het die eienskappe van here, is spanspelers en is daar wanneer daar op hulle knoppie gedruk word.”

Johann is getroud met René en spandeer sy vrye tyd saam met haar en hulle dogtertjie, Joané.

Hy is gereeld op die skietbaan en in winter hou hy daarvan om te jag en onthaal graag sy gesin.

Hy dien ook op die Nederduitsch Hervormde Kerk se raad en behartig die boeke vir die kerk.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version