Madam & Eve Kitchen se smere is watertandlekker

Natasha Jardim van Madam & Eve Kitchen maak kaassmeer en rissiesous op bestelling, maar het ook 'n paar bottels beskikbaar indien iemand dadelik soek.

POLOKWANE – ‘n Toebroodjie is vir vele mense ‘n heerlike, vinnige happie om die beer in hulle maag stil te maak. Die lekkerte van ‘n toebroodjie lê dikwels in die vulsel; van vars slaaiblare, tamatie en kaas tot grondboontjiebotter en stroop.

Natasha Jardim het lankal agtergekom haar kaassmeer is baie gewild onder vriende en familie en het dus besluit om dit aan meer mense beskikbaar te stel.

“Ek het gedurende Covid-19 my werk verloor en met drie kinders in die huis moes ek ‘n plan maak. Ek het my resep by my ouma, Ria van der Walt gekry, maar het ‘n geheime bestanddeel wat ek byvoeg.”

Natasha het besluit om haar onderneming Madam & Eve Kitchen te noem aangesien sy nog altyd gehoop het om ‘n skoonmaakbesigheid met dié naam te besit.

“Ek het besluit om die naam te gebruik vir my produkte.”

Sy vertel sy hou daarvan om tyd in die kombuis te spandeer en met verskillende kosse te eksperimenteer. Binnekort beoog sy om haar ma se perskeblatjangresep te probeer.

Beide haar oudste twee dogters volg in haar voetspore en is handig in die kombuis.

“Ek bepaal die pryse volgens die bestanddele. Net die glas bottels waarin ek dit verpak kos R7. Die kaassmeer is ook in biltonggeur beskikbaar. Ek gebruik gewone bergkaas en volroom melk. Ek koop fyngemaakte biltong en droom daarvan om aan gastehuise ook te kan voorsien.”

Natasha maak ook rissiesous en soms semelmuffins met neute. Die resep wat sy vir die rissiesous gebruik is een wat sy met tyd self uitgewerk het, en daar is ook ‘n spesiale geheime bestanddeel betrokke.

Natasha maak gebruik van ‘n kombinasie van vyf verskillende soorte rissies vir haar rissiesous en vertel haar man, Johan, is mal daaroor.

Sy maak beide die kaassmeer en die rissiesous op bestelling, maar het ook ‘n paar bottels beskikbaar indien iemand dadelik soek.

Om bestellings te plaas kan Natasha by 084 478 1776 geskakel word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version