Kindersorg verduidelik die bepalings van pleegsorg

Lorette Bosch, maatskaplike werker by Polokwane Kinder- en Gesinsorgvereniging, verduidelik die bepalings van pleegsorg.

POLOKWANE – Een van die vele regte van kinders wat in die grondwet uiteengesit is, is die reg om liefgehê te word en om beskerm te word teen mishandeling.

Net so het kinders ook die reg op ‘n veilige huis. Ongelukkig gebeur dit soms dat ouers weens verskeie redes nie na hulle kinders kan omsien nie en wanneer maatskaplike werkers betrokke raak in só ‘n situasie, word daar van ‘n plek van veiligheid by pleegouers gebruik gemaak.

Lorette Bosch, maatskaplike werker by Polokwane Kinder- en Gesinsorgvereniging, verduidelik indien iemand in die gemeenskap belangstel om ‘n pleeg- of veiligheidsouer te word, hulle die kantoor by 015 297 3326/7 kan skakel.

“Sou iemand belangstel, kan hulle ‘n afspraak met die maatskaplike werkers maak. Daar is vorms wat voltooi moet word en ‘n keurings- en passingsproses vind plaas wat nie ingewikkeld is nie. Die nodige inligting sal dan verduidelik word en vrae beantwoord word.”

Om die geskikte pleegouer te beskryf is moeilik aangesien elke kind se omstandighede en behoeftes verskil. Dit word bepaal deur die aansoeker se potensiaal en dus word elkeen individueel geëvalueer.

Om ‘n pleegouer in ‘n spesifieke boksie te sit, gaan nie werk nie.

“Ons werk met erg getraumatiseerde kinders wat met verskeie probleme vorendag kan kom. Ons moet dus seker wees die plasing gaan slaag en nie na ‘n paar dae of maande misluk nie.

“Tuisbesoeke word gedoen tydens die keuringsproses, en toesigdienste en ondersteuning is ook beskikbaar na die plasing”

Lorette sê daar is ‘n groot behoefte aan veiligheidsouers vir kinders, en dit sal wonderlik wees as hulle ‘n lys van geskikte beskikbare persone het, wat op kort kennisgewing gekontak kan word.

“Familie is natuurlik altyd ons eerste keuse voor ‘n pleegsorg- of kinderhuisplasing. ‘n Pleegouer is ‘n baie spesiale mens.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version