Local NewsNews

[VIDEO] Luhany maak haarself tuis voor die kamera

Luhany Botha (6) is 'n bondeltjie energie wat nie 'n skaam haar op haar kop het nie. Hierdie leerder van Pietersburg Laerskool is genooi vir nie minder nie as twee verskillende oudisies om voor die kamera te verskyn.

POLOKWANE – Haar ma, Lisa, vertel sy het op die Wysneusies Kompetisies Facebook-blad afgekom.

“Elke deelnemer moes ‘n gesigfoto instuur. Daarna was daar ‘n stemproses en Luhany was een van die gelukkige wenners. Sy gaan saam met Nadine in een van haar musiekvideos te sien wees.”

Luhany was baie opgewonde toe sy hierdie nuus kry en het op en af van blydskap gespring. Sy gaan saam Nadine sing en wag net vir die liedjie sodat sy solank kan begin leer.

Intussen het Anthonie Bougas van ABS Productions vir Lisa ‘n e-pos gestuur waarin Luhany genooi was vir ‘n oudisie om in ‘n kortfilm te speel.

“Ons moes óf ‘n monoloog óf ‘n gedig opsê. Ek het besluit om ‘n gedig op te sê en die heelpad Brits toe geoefen,” vertel Luhany.

In die teater moes sy op ‘n verhoog met ‘n mikrofoon die gedig opsê. ‘n Groot kamera was op haar gefokus en orals het ander finaliste se ouers gesit.

Lisa vertel daar was net onder 400 kandidate van verskillende ouderdomme. “Ons het onlangs gehoor Luhany het die oudisie geslaag en moet nou ‘n vier-maandelange kursus bywoon. Meeste klasse sal aanlyn wees, maar van die klasse gaan in Pretoria saam met hulle mentor wees. Die mentors sluit in Izak Davel, Brandon Olivier en Amore Vittone. Ons weet nog nie in watter kortfilm sy gaan speel nie.”

Lisa vertel sy het besluit om Luhany in te skryf aangesien dit vir haar deure kan oopmaak in die toekoms.

Hulle het dit egter ‘n gebedsaak gemaak en was verbaas toe Luhany vir die kortfilm gekies is.

Luhany is baie lief vir diere en al is sy so jonk, droom sy reeds daarvan om ‘n veearts te word. Verder sing en dans sy graag en is, soos Lisa dit stel, ‘n regte drama queen.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
 

Related Articles

Back to top button