‘n Brief, ‘n sersant en baie oupaliefde

Nikka Fritz (16) gesels oor die brief van oupa Andries wat sosiale media laat gons het.

POLOKWANE – Soos elke ander Kersvakansie sedert haar geboorte kuier Nikka Fritz (16) by haar grootouers in Polokwane.

Nikka en haar ma, Santie bly in George en vlieg aan die begin van die vakansie tot by O.R. Tambo Internasionale Lughawe waar oupa Andries en ouma Denise hulle opgewonde inwag.

Aan die einde van die vakansie sien Andries en Denise weer vir Santie en Nikka op die lughawe met swaar harte af. Nikka is Andries se oogappel, sy Nikka-bokkie-kind en elke jaar sit hy ‘n spesiale briefie in haar tas, een wat sy eers moet lees wanneer sy by haar huis in George aankom.

Andries het na dié vakansie soos gewoonlik ‘n spesiale briefie in Nikka se tas gesit net voor hulle terug George toe vlieg.

Hierdie jaar het die brief op een of ander onverklaarbare rede by die lughawe uitgeval. Een van die personeellede by die lughawe het die brief opgetel en aan sersant Vanessa Subramoney oorhandig.

Die brief het haar aangegryp en sy het begin planne maak om vir Nikka of Andries op te spoor.

Nikka Fritz en oupa Andries.

Nikka vertel haar oupa het ‘n spesiale plek in haar hart.

“Elke keer as hy vir my ‘n brief skryf, plak ek dit op my muur. Ek’s baie lief vir hom. Sy briewe is altyd ‘n lekker verrassing vir my.” Andries erken dit breek sy hart elke keer wat hy vir Nikka en Santie moet totsiens sê.

“Nikka is die jongste van ons drie kleinkinders en ek skryf al vanaf sy klein is vir haar briefies. Santie het dit altyd vir haar voorgelees. Dit was ‘n vreemde gevoel toe ek hoor sy het nie die briefie ontvang nie aangesien dit ‘n baie belangrike boodskap vir die nuwe jaar bevat het. Ek en Nikka het ‘n baie spesiale band en glo ek kan haar nooit teleur stel nie. Ek noem haar my Bokkie. Sy doen ook haar bes en het vele talente. Ek is baie lief vir haar.”

Intussen beraam Santie nog planne om die oorspronklike brief in die hande te kry.

“Sersant Subramoney is ongelooflik oulik met die hele storie. Ons waardeer die manier hoe sy dit hanteer het en sal haar eendag graag wil ontmoet. Ons is dankbaar vir haar pragtige intensies en vir dit wat sy gedoen het om die brief by Nikka te kry. Ons sou nooit geweet het wat van die pragtige, spesiale brief geword het as dit nie haar was nie,” vertel Santie.

Vele probeerslae om kommentaar van Subramoney te kry was onsuksesvol.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
 
Exit mobile version