‘Dit gaan goed’ sê Steven na oogoperasie

Steven Lavender het in 2020 na 'n doktersbesoek en verskeie mediese toetse die nuus ontvang dat hy 'n gewas van 4.7cm tussen sy oog en sy brein het.

POLOKWANE – Die senuwees van sy oog na sy brein was deur die gewas vasgeknyp en sy regteroog het baie vinnig verswak, waarna Steven en sy familie geld moes insamel sodat hy die sensitiewe operasie kon ondergaan. ‘n Dokter in Pretoria het aangebied om die operasie gratis te doen, maar hospitaalkoste was steeds meer as R400 000.

Die organiseerders van Survivors Golf Day en hulle ondersteuners het bygedra tot Steven se onkoste en hy kon die operasie in Desember 2020 laat doen. Nou, net meer as ‘n jaar later, vertel hy dit gaan voorspoedig, maar daar is nog behandeling wat hy moet kry.

Lees ook: Groot operasie lê vir Steven voor; hy benodig jou hulp

“Dit gaan goed met my. Ek moet weer vir ‘n skandering gaan om te kan bepaal of die hele gewas weg is. Met die laaste skandering was daar nog 6mm x 2.5mm van die gewas oor. Ek het vir ses weke bestraling ontvang, en die operasie was ‘n sukses. Hulle kon nie alles verwyder nie, maar het gedoen wat hulle kon. As die skanderings nog iets wys, sal ek weer bestraling of ‘n operasie moet ondergaan, maar ek voel elke dag beter en beter.”

Steven is getroud met Kristine en hulle het drie seuns.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group
Exit mobile version