Zuané wil graag ‘n ‘betekenisvolle verskil’ maak

Zuané Breedt is een van drie Hoërskool Pietersburg-leerders wat meeding vir die plek as top leerder vir 2021.

POLOKWANE – Op sewejarige ouderdom wou Zuané Breedt ‘n veearts of marine bioloog word, maar vanjaar gaan sy medies studeer met die hoop om in sjirurgie te spesialiseer.

Sy is een van drie Hoërskool Pietersburg-leerders wat meeding vir die plek as top leerder vir 2021.

“My vakkeuse en aanlegtoetse het destyds bepaal dat PHS die beste skool vir my is. Ek het twee studierigtings oorweeg; medies en aktuaris, maar het op medies besluit want ek voel die rigting bied soveel meer geleenthede en ek wil ook graag met mense werk waar ek ‘n meer betekenisvolle verskil kan maak. Ek het op die Universiteit van Stellenbosch as universiteit besluit.”

Zuané het PHS se tradisies, soos Kardoesie, vreeslik geniet en erken dat bykans alles by die skool eintlik vir haar lekker was.

“Ek gaan die hegte band wat tussen vriende asook die onderwysers en leerders gevorm het, mis. Op universiteit is die wêreld heelwat groter en mens kry nie meer daardie samesyn soos op skool nie. My raad aan ander is om hard te werk. Leer hard, maar jy mag so nou en dan vergeet om huiswerk te doen, dis nie die einde van die wêreld nie. Gryp elke geleentheid aan en geniet elke aspek wat hoërskool bied, want die seniorjare is jou beste jare op hoërskool.”

Zuané het kultuur soos revue, skouspel en spanredenaars verkies bo sport. Sy vertel om alles wat sy moes doen te balanseer was ‘n uitdaging. “Ek het net die belangriker dinge geprioritiseer en by my rooster probeer hou. Skoolwerk was belangrik, maar ek het altyd gesorg dat ek tyd maak vir my vriendinne en familie.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version