Leana se liefde vir mens en medies spoor toekomsplanne aan

Hoërskool Pietersburg se hoofmeisie vir 2021, Leana Swarts wil graag 'n pediater word.

POLOKWANE – Die menslike anatomie en fisiologie het nog altyd vir Leana Swarts gefassineer.

Daarom het sy die besluit geneem om by die Universiteit van Stellenbosch se mediese kampus op Tygerberg aan te sluit en medies te studeer. Leana het reeds as jong meisie geweet sy wil ‘n dokter word, spesifiek ‘n pediater (of kinderdokter soos sy dit destyds gestel het).

“Ek geniet dit om met mense te werk en deur medies te studeer kombineer ek my passie vir geneeskunde en liefde vir mense.”

Leana was in gr. 7 by Oosskool hoofmeisie en weer in gr. 12 by Hoërskool Pietersburg. Sy vertel sy het gekies om haar hoërskoolloopbaan by PHS te voltooi aangesien die skool vir haar ‘n wye verskeidenheid geleenthede kon bied.

“By PHS kry mens die geleentheid om nie net akademies te ontwikkel nie, maar ook op ander gebiede soos sport, kultuur en sosiaal. Ek was bevoorreg om een van die skool se leiers te wees. Skool in geheel was vir my lekker en ek dink die kombinasie van breinstimulering, sosiale aktiwiteite, sporttoere en kosbare verhoudings het dit lekker gemaak. Een ding wat ek gaan mis is die gevoel van samehorigheid as ons hele skool saam op die paviljoen ‘Hoor jy die stemme‘ sing.”

Leana het hokkie gespeel en aan atletiek deelgeneem, maar het al haar slag in swem, landloop en tennis probeer. Om haar studies, sportaktiwiteite en sosiale lewe te balanseer het sy vooraf beplanning gedoen en daarby gehou. Sy vertel ‘n kombinasie van die drie is belangrik en indien jy vroeg genoeg begin beplan, sal jy by alles uitkom.

“My raad aan gr. 10-leerders is tweeledig: Akademies gewys raai ek aan wanneer jy leer, leer jy kliphard, maar as jy speel, speel net so hard. Goeie punte maak vir jou deure oop, maar moet nie toelaat dat akademie die beste drie jaar van jou skoolloopbaan van jou af ontneem nie. Geestelik, moet jy alles wat jy doen vir die Here doen. As jy leer, leer vir God. As jy ‘n wedstryd speel, speel vir God – dan gaan alles skielik vir jou net nog lekkerder wees om te doen.”

Leana is een van drie PHS-leerders wat in aanmerking is om as top presteerder van die skool aangewys te word.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version