Helpende Hand reik uit na organisasies

Tydens 'n netwerkdag het Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder in Limpopo, Marianthie van der Walt, en Helpende Hand maatskaplike werker, Carol Ankiewich, verteenwoordigers van verskillende liefdadigheidsorganisasies besoek met die oog daarop om mekaar nie net beter te leer ken nie, maar ook om hande te vat.

POLOKWANE – Wanneer jy min gee, ontvang jy min, en wanneer jy baie gee, ontvang jy baie.

Dis volgens dié woorde waarmee liefdadigheidsorganisasies in die stad te werk gaan. Tydens ‘n netwerkdag het Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder in Limpopo, Marianthie van der Walt, en Helpende Hand maatskaplike werker, Carol Ankiewich, verteenwoordigers van verskillende liefdadigheidsorganisasies besoek met die oog daarop om mekaar nie net beter te leer ken nie, maar ook om hande te vat.

Organisasies wat genooi was, is die Pietersburg Hulpgroep, Hoop vir Kinders, Women Taking Back Safety, Heart Drive/Heart Cycle, Helping Hand en N.G. Kerk Renosterpoort.

“Polokwane het ‘n goeie stelsel in stand gehad tydens die inperking waar al die organisasies saam gewerk het om die behoeftiges te help,” sê Marianthie.

Sy vertel daar is 16 dorpe met ‘n Helpende Hand tak in die provinsie, waarvan sommiges geen struktuur gehad het nie. “Ons wil graag met almal van julle hande vat sodat ons ‘n groter impak kan hê. Ons wil met meer as net kospakkies help deur ook maatskaplike- en gemeenskapswerk te behartig. Ons versterk julle in wat julle reeds doen en ons het geld beskikbaar indien dit nodig sou wees.”

Solidariteit Helpende Hand behartig verskeie projekte om die gemeenskap te help. Daar is die #Helpjag, Skooltassieprojek, #Helphetta, Ons Winkels, Studiefonds en vele meer.

Marianthie het ook aangekondig dat hulle 31 ton kos ontvang het waarvan hulle 100 kospakke aan Polokwane gee om weer te versprei.

“Die waarde van een pak is R650 en dus sal ons 4,5 ton aan julle oorhandig. Ons wil graag ook begin om die behoeftiges te bemagtig om nie altyd net te ontvang nie, maar vir hulself te kan sorg. Dit begin reeds op skoolvlak en ons wil ons fokus op die skole plaas.”

Exit mobile version