Groei in toerisme sal plaaslike vlugpryse sien krimp, sê burgemeester

Burgemeester John Mpe meen die lughawe hou groot potensiaal in vir die toerisme- en gasvryheidsbedryf.

POLOKWANE – Die hervatting van kommersiële vlugte vanaf die Polokwane Internasionale Lughawe kan moontlik meer toeriste én besigheid na Polokwane lok.

Dit is aldus die burgemeester, John Mpe, toe hy onlangs aan die Politics Under Review gesprek by Fusion Boutique Hotel deelgeneem waar hy onder andere oor dié saak gesels het.

Die lughawe in Polokwane was in Maart weens 14 veiligheidsverwante risiko‘s deur die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid afgegradeer en alle vlugte was tot onlangs gestaak.

Kommersiële vlugte het in middel Oktober hervat en Mpe meen dat daar beslis ‘n groot mark vir bekostigbare vlugte na Polokwane is, veral vir diegene wat in die besigheid- of toerismebedryf doenig is.

Lees meer: Stand van sake by Polokwane lughawe kommerwekkend vir opposisie partye

“As ons dit kan regkry om vlugte na Polokwane te normaliseer, sal die mark vir toerisme en besigheid ook verbeter. Hoedspruit is die perfekte voorbeeld van hoe toerisme die grootste dryfveer vir ‘n lughawe kan wees. Jare gelede het plekke soos Johannesburg so ver gevoel, maar danksy ons gevorderde paaie kan ons binne ‘n paar uur daar wees, terwyl ‘n vliegtuig ons maklik in ‘n uur daar kan kry.”

Mpe sê dat inwoners na die stad moet begin kyk as ‘n toeristebetemming, omdat daar baie geleenthede vir toerismeverwante aktiwiteite in Polokwane is wat groot aftrek sal geniet en die ekonomie ‘n hupstoot kan gee.

“Daar is baie prag in ons area, veral as ek dink aan my tuisdorp, Ga-Molepo. Die Wolkberge se watervalle, grotte en natuurlike prag kan maklik in ‘n roete vir toeriste omskep word wat selfs die Lekgalameetse Natuurreservaat kan betrek. Dit kan selfs meer besoekers na ons provinsie lok.”

Mpe wil ook die Departement van Vervoer betrek om te bepaal op watter maniere die dienste by die lughawe uitgebrei kan word.

“Ek dink hier is baie geleenthede vir ons as ons die basiese dienste in ons stad kan bewerkstellig en die groter projekte loods om toerisme in Polokwane aan te vuur. Selfs deur net die akademiese hospitaal en die Inligting- en Kommunikasietegnologiesentrum projekte te voltooi sal meer besoekers na die stad lok.”

reporter02@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version