Limpopo visserman gly, verdrink in dam

Op dié noodlottige dag wou Patricius Netshituni waarskynlik groter visse as gewoonlik vang, het 'n vriend gesê.

LIMPOPO – Dit was sy plaaslike mark wat vir Patricius Netshituni uitkoms gebied het toe die werkloosheid begin druk het, maar die kranige visserman is onlangs oorlede in die viswaters.

Die 34-jarige Netshituni van Tshituni Tshafhasi en sy visstokke was gereelde besoekers aan die plaaslike dam, waar hy genoeg vis gevang het om vir sy familie te sorg en die res te kon verkoop.
Op 12 Oktober het die noodlot egter getref, nadat sy voet gegly en hy onder die water verdwyn het.

Volgens bronne het Netshituni op dié dag veel dieper in die water ingegaan as gewoonlik, waarskynlik om groter visse te kon vang.

‘n Vriend wat saam met hom was, het vertel dat hy onder die water verdwyn het. Dié het die plaaslike owerhede in kennis gestel, maar teen die tyd dat polisieduikers op die toneel aangekom het, was dit reeds aand en die tekort aan lig het die soektog bemoeilik.

Plaaslike inwoners en lede van sy familie het by die dam geslaap totdat die duikers die volgende oggend teruggekeer het.

Die area is tevergeefs per boot gefynkam, maar duikers het ‘n dag later wel op sy liggaam afgekom.

Volgens polisiewoordvoerder, Brig Motlafela Mojapelo is ‘n geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.

“Ons doen weer ‘n beroep op inwoners en veral kinders dat riviere en damme baie meer gevare inhou as verdrinking. Daar is gevaarlike diere wat in die water leef, wat krokodille en seekoeie insluit. Ons vra vir ouers om toe te sien dat hul kinders, wanneer hulle wel by die waters speel, dit onder die toesig van ‘n volwasse persoon doen.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version