Local NewsNews

Begrafnisreëlings vir Xander Deyzel (37)

‘n Jarelange inwoner van Polokwane, 37 jarige Xander Deyzel , is Sondag (24 Oktober) skielik oorlede. Sy afsterwe het diep skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

POLOKWANE – ‘n Gedenkdiens vir bekende boerbokteler en sakeman Xander Deyzel (37) vind Dinsdag (2 November) om 11:00 by Bolivia Lodge plaas.

Deyzel het op Sondag (24 Oktober) gesterf nadat hy en sy familie terug gekeer het van ‘n ontspannende gesinswegbreek.

Xander en sy vrou, Natanya, hul kinders Xander en Anuska het saam met vriende by die Ebenezerdam uitgespan, volgens sy jarelange vriend, Ruan Smit. Kort na hul terugkeer huis toe het Xander egter inmekaar gesak en is hy na wat vermoed word aan ‘n hartaanval oorlede.

Hy was ‘n bekende en geliefde inwoner, boerbokteler en die eienaar van Big D’s Catering en Kleinbegin Boerbokstoet. Sy skielike afsterwe het diep skokgolwe deur die gemeenskap gestuur.

Hy was nou betrokke by Tafelrondte Pietersburg 22 waar hy ten minste twee keer as Tafellaar van die Jaar aangewys is, vertel Dawid van der Walt: “Xander het altyd baie hard gewerk en gereeld die voortou by projekte geneem. Hy het sy alles vir die gemeenskap gegee en met almal goed oor die weg gekom.”

Xander was vir sowat 10 jaar deel van die Innibos Boerbokgroep, het op die Bosveld Boerbokklub se bestuur gedien en het self met Kalahari rooibokke en boerbokke geteel.

Hennie van Niekerk, ‘n vriend en mede-stoetteler onthou Xander as ‘n vriendelike en eerbare mens met ‘n ontsaglike liefde vir sy diere. “Die manier waarop hy sy vrou en kinders liefgehad het, was merkwaardig. Sy passie vir sy bokke en die stoet was iets om na te streef. Hy het baie pryse met sy bokke gewen.”

Volgens nabye vriende was Xander ‘n betrokke ouer wat nie sommer sy kinders sy wedstryde op die sportveld misgeloop het nie. Oosskool het ook hulle medelye met die familie betoon.

“Namens die skoolgemeenskap ons innige simpatie en meegevoel met die Deyzel-famile met die afsterwe van Xander. Ons bid dat ons Hemelse Vader hulle in hierdie moeilike tyd sal vertroos en sal omvou met Sy liefde. Ons betreur sy afsterwe,” het skoolhoof Gideon Pelzer gesê.

Boodskappe van bemoediging vir sy gesin en familie stroom steeds in op sosiale media.

Kalahari Reds: Dit is met groot hartseer om die nuus te deel dat geliefde medeteler, Kalahari Reds klublid, vriend, man, seun en pa oorlede is. Dit is voorwaar ‘n groot verlies vir almal. Ons onthou ‘n lewe wat goed gelewe is, ‘n man van merkwaardige karakter en ‘n nalatenskap wat altyd sal voortleef. Ons deel ook ons diepste simpatie met sy vrou Natanya, hul twee kinders en die Deyzel-familie. Ons hou hulle almal in ons gedagtes en gebede en mag hulle krag en vertroosting vind. Ons bid dat ons vriend in vrede sal rus.

Inniebos Boerbok Groep: Dit is met groot hartseer dat ons afskeid moet neem van een van ons lede. Xander Deyzel, my vriend en mede-Innibos-groeplid, ons het nie woorde om ons verlies te beskryf nie. Die passie en dryfkrag wat jy na ons bokbedryf gebring het, was ongelooflik. Ons gaan jou almal baie mis, my vriend. Totdat ons weer ontmoet. En aan Natanya en familie, ons sal julle bystaan en ondersteun waar julle dit ook al nodig het. Wees sterk en weet dat julle almal in ons gebede is. Julle is deel van ons familie. Mag God jou en die kinders veilig hou in hierdie verskriklike tyd. Lief vir julle almal.

Faheem Kala van Bushra Stoet: Hy was so ‘n ongelooflike mens. Ons het die voorreg gehad om oor die jare saam met hom in hierdie bedryf te werk en dit was altyd ‘n plesier om met hom besigheid te doen. Hy was ‘n ware heer wat ‘n groot passie vir die bokke gehad het. Sy afsterwe laat ‘n onmeetbare gat vir ons almal.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button