Maak ‘n draai by die 8ste Lentemark

N.G. Kerk Pietersburg-Oos se jaarlikse Lentemark vind hierdie jaar vir die agtste keer plaas.

POLOKWANE – Markgangers kan tussen 27 Oktober en 6 November uitsien na verskeie geskenke, kunstighede, plante, juwele, vars proteas en rose.

Daar sal ook klere, droë vrugte, vars groente, koekies, droë en nat beskuit, Ouma Rooi se gewilde koeksisters, terte, gevriesde geregte, boerewors rolle en wegneem etes wees. Dié etes kan by die mark of tuis geniet word. Vencor voorsien die vleis asook besondere lekker biltong en droëwors.

Vir die manne is daar gereedskap, elektroniese-, kamera-, sport-, kamp- en tuintoerusting, asook boumateriaal. Die wit olifanttafel is veral gewild vir massas boeke en goeie gehalte items wat byna verniet is. Tuscan Place se spyskaart bied heerlike ontbyt, middagete en aandetes in ‘n knus atmosfeer.

Geniet jou wyn, bier, cyders, cappuccinos of ‘n koeldrank saam met jou ete.

Daar sal musiek en buitelug kaggelvure wees waarby jy en jou vriende na werk kan ontspan. Groot pryse kan gewen word met die gelukkige trekking op 6 November. Daar is veilige parkering en geen toegangsgelde word gevra nie.

Die gewilde Baobab Aandmark is ook deel van die Lentemark op 29 Oktober tot 22:00.

Kom geniet fynproewers burgers, pannekoek, wraps, pizza op ‘n stokkie, gebak, craft gin, “beer on tap”, wyn, koffie, yskoffie, en vele meer.

Tye is van 10:00 tot 19:00 op Maandae tot Saterdae en van 10:00 tot 14:00 op Sondae.

Vir meer inligting kontak vir Ilze Meyer by 072 216 3714 of i.meyer@hotmail.co.za.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version