Local NewsNews

Toeskouers mag terugkeer, maar voorwaardes geld

Die Staatskoerant van die Departement van Samewerkende Regering het aangekondig dat toeskouers met beperkings mag terugkeer.

POLOKWANE – Die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, dr. Nkosazana Dlamini Zuma, het die terugkeer van toeskouers na professionele en nie-professionele sportbyeenkomste goedgekeur.

In die nuutste Staatskoerant vir die Departement van Samewerkende Regering word toeskouers toegelaat by wedstryde wat deur erkende sportliggame aangebied word, onderhewig aan streng tye soos uiteengesit in Regulasie 66(3) en:

“Aanwysings vir sportbyeenkomste uitgereik deur die kabinetslid wat verantwoordelik is vir sport na oorlegpleging met die kabinetslid wat verantwoordelik is vir gesondheid. Toeskouers by sportbyeenkomste word toegelaat, maar beperk tot 750 persone of minder vir binnenshuise aktiwiteite en 2 000 persone of minder vir buite geleë plekke en as die lokaal te klein is om die voorgeskrewe aantal persone te hou wat ‘n afstand van ten minste een en ‘n half meter van mekaar waarneem, mag nie meer as 50% van die kapasiteit van die lokaal gebruik word nie, onderhewig aan streng nakoming vir alle gesondheidsprotokolle en sosiale afstandsregulasies,” lui die koerant.

Die koerant voeg by dat ‘n eienaar of bestuurder van ‘n sportfasiliteit moet verseker dat regulasies nagekom word en dat hy ‘n boete en/of gevangenisstraf vir ‘n tydperk van hoogstens ses maande opgelê kan word indien hy nie daaraan voldoen nie.

Die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging het in ‘n plasing op hulle webwerf die regering bedank vir die wysiging. “Safa wil die minister van sport, kuns en kultuur sowel as die minister van gesondheid bedank vir hulle steun aan die inisiatief vir die terugkeer van ondersteuners na die stadion. Die twee ministers moet geprys word vir hulle pogings. Dinsdag (12 Oktober) is die eerste keer dat ondersteuners na die stadion sal terugkeer na twee jaar weg van hulle gunsteling tydverdryf as gevolg van die Koronavirus-pandemie. ‘n Beperkte aantal 2 000 toeskouers sal toegelaat word om die Fifa Qatar 2022 Wêreldbeker kwalifiseringswedstryd tussen Bafana Bafana en Ethiopië in die FNB-stadion. Die wedstryd begin om 18:00,” lees hulle berig.

Die Blou Bulle se president, Willem Strauss, verwelkom ook die aankondiging. “Die aankondiging is goeie nuus vir sport, en veral rugby in ons geval. Ons kan nie wag om ons ondersteuners weer op Loftus Versfeld te huisves nie,” het hy aan Review gesê.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
 
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button