‘Ek was altyd so lief om te loop, nou kan ek glad nie loop nie’

Elna Venter (49) moes binne die tydstip van 'n week twee amputasies ondergaan, nadat 'n skrapie op haar enkel nie wou genees nie.

POLOKWANE – Wat eers net ‘n klein skrapie op haar enkel was, het skielik in ‘n nagmerrie ervaring vir Elna Venter (49) ontaard.

Sy was in 2012 met tipe 1-diabetes gediagnoseer en het haarself altyd goed opgepas, maar die afgelope paar maande het dinge verkeerd begin loop. Elna het onlangs twee amputasies aan haar regterbeen in die tydstip van ‘n week gehad.

“Ek is in dieselfde tyd wat ek met diabetes gediagnoseer is ook met fibromialgie gediagnoseer. Dit veroorsaak dat ek in konstante pyn is en my hele lyf het inflammasie. As gevolg daarvan kan ek nie werk nie. My man het tydens die grendeltydperk sy werk verloor en ons moes ‘n kamer huur om in te bly. Die leefomstandighede was nie goed nie en ek het daar ‘n stukkende plek op my enkel opgedoen. Ons het ons kar verkoop om geld te kry vir ‘n ander blyplek.”

Elna onthou hulle het kort hierna na ‘n ander woonstel verhuis. Die seerplek op haar enkel het beter geraak, maar een nag het ‘n waterpyp in hulle woonstel gebars en toe sy na die stopkraan gaan soek, het sy die seer weer oopgestamp.

“Dit was ses maande gelede en die wond het net nie gesond geword nie. Ek het dit gedokter soos my finansies dit toegelaat het. Diabetes tas jou bene en die bloedtoevoer na jou bene en voete aan. Ek het eers gedink dis as gevolg van die diabetes wat veroorsaak dat die wond nie genees nie. My kleintoontjie het begin verkleur en ek kon glad nie meer op die voet trap nie.”

Elna het geld bymekaar gemaak om na ‘n dokter toe te gaan, wie vir haar antibiotika en pyn medikasie voorgeskryf het. Haar voet het egter nie gesond geword nie en sy was na die Pietersburg Provinsiale hospitaal verwys.

Teen hierdie tyd het sy geen gevoel meer in haar voet oorgehad nie. Sy is met septisemie in die hospitaal opgeneem en na die dokters haar gestabiliseer het, het sy op 7 September ‘n noodoperasie ondergaan waar haar regtervoet net bo die enkel afgesit is.

“Daar was geen meer bloedtoevoer na my voet toe nie – ‘n mens noem dit ‘n diabetiesevoet. Na die amputasie het ek gedink dit is nie so erg nie en dat ek dit sal kan hanteer. Dit was seer, maar nie so erg nie.”

Presies ‘n week na die eerste amputasie word Elna weer in die teater ingestoot. Die keer word haar been onder haar knie afgesit en sy vertel van die woede wat daarmee gepaard gaan.

“Ek wou nie eers vir my been kyk nie. Ek was kwaad vir hom. Die pyn was erger as wat ek kan beskryf. Ek voel ook minderwaardig en asof ek ‘n las vir my man is. Ek kan skielik nie meer vir hom gaan koffie of ‘n toebroodjie maak nie. Ek was altyd so lief om te loop, nou kan ek glad nie loop nie.”

Alhoewel die hospitaal Elna van pynpille voorsien het, moet sy sterker pille aankoop. Sy benodig ook ander medikasie, smeermiddels en pleisters om die wond mee skoon te maak.

“Al was ek by die provinsiale hospitaal gehelp, moes ek steeds ‘n bedrag betaal. My man het intussen weer begin werk, maar sy salaris dek net die nodigste uitgawes. Ons ontvang ‘n kospakkie en ek kan nie genoeg dankie sê daarvoor nie. Die personeel en dokters by saal M was baie goed vir my. Hulle het my met respek behandel, die hospitaal was skoon en die kos was ook lekker. Ek moet weer op 20 Oktober dokter toe gaan. Verder moet ek fisioterapeute, ‘n voetspesialis, dieetkundige en sielkundige gaan sien.”

Elna is positief dat alles goed sal uitwerk, maar erken dat sy nie emosioneel gereed is vir nog ‘n amputasie nie. Die pyn waarmee sy tans worstel is vir haar erg genoeg. Sy het oefeninge gekry wat sy moet doen om haar ledemate sterk te maak.

“Dis asof my brein nie wil aanvaar dat my voet nie meer daar is nie. Ek kry spookpyne en alhoewel ek self nie die voet kan sien nie, voel ek hom nog. Die wond moet elke tweede dag oopgemaak en skoongemaak word. Ek is geseënd met ‘n goeie familie wat my help en ondersteun.”

Vervoer van en na die hospitaal toe is ‘n uitdaging aangesien hulle voertuig verkoop is. Elna hoop mense in die gemeenskap sal kan help om haar lewe ‘n bietjie makliker te maak.

Indien jy kan help, skakel vir Elna by 082 629 6365 of haar vir suster Retha Mahne by 078 949 8209.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version