Local NewsNews

Soektog duur voort vir vermiste man van Limpopo

Kleinsus Alicia Venter sê Hennie (35) is iemand wat altyd sou probeer om kontak te maak, sou sy selfoon probleme gee.

LIMPOPO – Die soektog vir vermiste Hendrik Stephanus Venter, oftewel Hennie, duur voort.

Hennie is op 4 September vir die laaste keer deur sy ouers gesien. Volgens kleinsus Alicia, het hulle ouers hom by sy woning in Northam daardie dag gaan aflaai.

‘n Saak van ‘n vermiste persoon is by die plaaslike polisie aangemeld en volgens ‘n vroeër verklaring van polisiewoordvoerder Lt. Kol. Mamphaswa Seabi, het hy laas ‘n bruin kortbroek, swart T-hemp en plakkies gedra.

“Venter se familie en die polisie het by vriende, uitgebreide familie en areas wat hy gereeld sou besoek, na hom gesoek sonder sukses. Enigeen wat weet waar hy homself bevind word aangeraai om vir die ondersoekbeampte, Sers. Selolo, by 082 758 1428 of 082 565 7611 te skakel,” lees die verklaring.

Alicia het aan Review genoem Hennie is ‘n persoon wat baie afhanklik is van sy selfoon en hulle nommers uit geheue kan opsê.

“Indien sy selfoon sou breek, sou hy ons kontak en inlig dat ons moontlik nie van hom sou hoor nie. Daarom is dit vir ons vreemd dat ons nog nie van hom gehoor het nie,” vertel sy.

Alicia het bygevoeg dat Hennie se selfoon ‘n dag of wat voor sy verdwyning gesteel was.

Volgens Queen Red Ant For Missing Persons het Hennie groen oë, donkerbruin hare en is 1.7m lank. Hy het ook ‘n tatoeërmerk van ‘n kompas/horlosie onder sy een arm.

Jaun van Staden van die nie-winsgewende organisasie kan ook by 076 553 4494 geskakel word met enige inligting. 

Lees ook: Have you seen these missing men?

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button