Local NewsNews

Geliefde inwoner tannie Beatrice (71) se hartlike lag nou stil

Tannie Beatrice Loots is Woensdagoggend oorlede na 'n paar dae se slegvoel. 

POLOKWANE – “Jess, gee vir my ‘n pilletjie om die seer weg te vat.”

Só vra tannie Beatrice Loots (71) se een kleindogter, Anika Barnard nadat sy van haar ouma se afsterwe gehoor het. Hierdie seer is nie net Anika s’n nie, maar almal wat tannie Beatrice geken het. Net soos wat sy by haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders betrokke was, was sy ook in die gemeenskap alombekend. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie.

As sy nie by die SAVF besig was om pannekoek te bak nie, het sy aan VLU-kompetisies deelgeneem. Sy was ‘n geliefde lid van die Pietersburg Tuinbouklub en het tot waar sy in die hospitaal was nog haar bekommernis oor administratiewe take by van die instansies uitgespreek.

Haar hartlike lag het Woensdagoggend skielik stil geword toe sy na ‘n paar dae se slegvoel oorlede is.

Tannie Beatrice het verlede Saterdag begin duiselig voel en nadat sy haar kop oopgeval het is sy na die hospitaal geneem waar die dokters toetse gedoen het. ‘n Bloedklont in haar long was opgemerk en haar dogters vertel hoe dokters nie vreeslik bekommerd geklink het nie, en is daar verwag dat tannie Beatrice binnekort huis toe sou gaan.

“My ma was so sterk en het altyd orals gehelp waar sy kon. Ons is dankbaar, want ons kon haar elke dag wat sy in die hospitaal was sien. Sy het Dinsdag so goed en rustig gelyk en toe verander alles. Ek dank die Here ons kon haar sien en by haar bly. Ek kon haar gemaklik maak en daar wees vir haar soos sy altyd daar was vir almal. My ma los groot leemtes in ons lewens,” vertel haar dogter, Santie Barnard.

Tannie Beatrice se ander dogter, Petro Grobler, onthou watter lekker ervaring Dinsdag saam met haar ma was. “Die hospitaalpersoneel was baie goed vir ons, ons kon my ma in die intensiewesorgeenheid besoek.”

Santie sê haar ma het warm gekry en al was haar liggaam yskoud, sy haar nogmaals afgespons het. “Ek het gesien haar gedagtes is ‘n warboel en het vir haar gevra of ek vir haar kan bid. Daarna was sy kalm.”

Beatrice de Villiers, tannie Beatrice se jongste dogter, vertel hoe al drie die susters op hul eie manier daar kon wees vir hulle ma. “Ons was fisies en geestelik daar vir my ma, veral die laaste paar dae.”

Die drie susters is dit eens dat hul ma baie streng was, maar altyd ‘n omgeehouding gehad het. Selfs op sosiale media stroom die medelye in en is dit duidelik sy was ‘n ma vir elke persoon wat haar pad gekruis het.

“Soveel van ons vriende het gesê sy het altyd vir hulle raad gegee en hulle kon teenoor haar bieg. Selfs haar skoonkinders was soos haar eie kinders. Haar hart het altyd plek gehad vir nog iemand,” onthou Beatrice.

Petro voeg by dat haar ma hulle geleer het om met ‘n oop hart te deel. Niks was ooit vir haar te veel moeite nie en sy het nooit ‘nee’ gesê nie. “Sy het ons geleer harde werk maak jou nie dood nie.”

Haar kleinkinders was haar groot liefde en sy sou nie een konsert of matriekafskeid mis nie, maak nie saak hoe ver sy sou moes ry nie. Sy was lief vir elkeen van hulle, selfs vir die wat nie geweet het hoe om hulself lief te hê nie. Sy was gaande oor Ethan en Julia, twee van haar agterkleinkinders, en kon nooit genoeg van hulle kry nie.

Haar beste vriendin, Sophia de Swart, is stomgeslaan oor haar afsterwe. “Sy was my maatjie, ons het ure lank gekuier en amper alles saam gedoen. Sy was my beste vriendin en ek mis haar alreeds.”

Sy word oorleef deur haar kinders, Petro Grobler, Marius Loots, Santie Barnard, Wikus Loots en Beatrice de Villiers, 15 kleinkinders en agterkleinkinders.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button