Plaaslike vroue skenk gebreide mussies aan TLC

Vroue van Koraal Aftreeoord, saam met 'n paar ander vroue in die gemeenskap het meer as 80 hand gebreide mussies aan die TLC-saal oorhandig.

POLOKWANE – Enige gegewe tyd in die maand is daar 35 kinders tussen die ouderdomme van vyf maande en 16 jaar wat kankerbehandeling ontvang. Só vertel Tough Living with Cancer (TLC)-saal fasiliteerder Bobby Were. Die saal is geleë in die Pietersburg Provinsiale Hospitaal.

“Destyds toe hulle die saal gebou het, het hulle genoeg plek vir 27 kinders gebou. Tans beweeg daar ongeveer 75 kinders van regoor Limpopo as pasiënte deur die saal. Van hierdie kinders kom net sommige dae in en ontvang behandeling, ander bly permanent hier. Vir elkeen van hierdie kinders is dit ‘n groot ding wanneer hulle hare begin uitval.”

Vroue van Koraal Aftreeoord, saam met ‘n paar ander vroue in die gemeenskap het op 30 Augustus, meer as 80 hand gebreide mussies aan Bobby oorhandig wat hy dan aan die kinders by TLC sal uitdeel soos nodig. “Die mussies word baie waardeer. Dit help ook om hulle liggaamstemperatuur hoër te hou aangesien die hitte deur hul onbedekte kopvelle ontsnap,” voeg Were by.

Die groep vroue brei ook Stop-poppies en is afhanklik van skenkings vir hulle wol.

“Ons bedank graag almal wat so getrou wol skenk aan ons. Dit word opreg waardeer,” se organiseerder Charlotte Joubert.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version