Local NewsNews

De Lange-moordsaak: Hewige vonnisse word opgelê

Konstabel Pieter de Lange is in November 2018 in Ladanna doodgeskiet.

POLOKWANE – Regterpresident Ephraim Makgoba het Phuti Mehlape ‘n lewenslange vonnis opgelê nadat Mehlape skuldig bevind is aan die moord op Konstabel Pieter de Lange op 8 November 2018.

De Lange is in 2018 vermoor in ‘n skietgeveg nadat hy en ‘n kollega ondersoek wou instel na ‘n verdagte voertuig. ‘n Skietgeveg het uitgebreek toe hulle na die voertuig beweeg het en daar op hulle geskiet is.

Mehlape het saam met handlangers, ‘n vrou in Polokwane van haar BMW X3 beroof en haar ontvoer nadat hy ‘n wapen op haar gerig het.

Mehlape het met haar in die distrik rondgery en haar toe op die Dendronpad uit die voertuig gegooi.

Lees ook: De Lange moordsaak uitgestel vir verdere ondersoek

Benewens die lewenslange vonnis het Mehlape ook vyf jaar gevangenisstraf gekry vir die besit van ‘n gesteelde voertuig, 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede, agt jaar vir ontvoering en ‘n verdere 15 jaar vir die onwettige besit van ’n semi-outomatiese wapen en ammunisie, die minimum voorgeskrewe vonnis daarvoor.

“Hy verdien dit om vir ‘n lang, lang tydperk uit die samelewing verwyder te word,” het regter Makgoba gesê, en bygevoeg dat moord op polisiemanne skerp toegeneem het vanaf 2018. Vanjaar is daar reeds 24 polisiemanne vermoor teenoor 17 die voorafgaande jaar. Hy het ook gesê dat Mehlape tenders gekry het en ‘n goeie gemiddelde salaris verdien het, maar dit weens gierigheid wou aanvul deur onwettige gedrag en deur te roof.     

Peter Mswazi is ook skuldig bevind aan roof met verswarende omstandighede, waarvoor hy 15 jaar tronkstraf gekry het, sowel as ontvoering, waarvoor hy agt jaar tronkstraf gekry het, waarvan drie jaar opgeskort is vir vyf jaar. Hy sal effektief 20 jaar in die gevangenis deurbring. 

Mswazi is in 2020 skuldig bevind aan diefstal, waarvoor hy tot vyf jaar tronkstraf gevonnis is, maar die regter het gesê dat die straf bykomend sal wees tot die vyf jaar, en nie terselfdertyd uitgedien sal word nie. Mswazi is onskuldig bevind op klagte van moord, besit van gesteelde goedere en die besit van ‘n onwettige wapen en ammunisie.

Regter Makgoba het gesê sy persoonlike omstandighede en swak gesondheid sal nie in die geval dien ter versagting nie, aangesien die erns van sy oortredinge dit nie toelaat nie.

Betty Maphoto, ‘n verpleegster verbonde aan die Departement van Gesondheid, is skuldig bevind aan dwarsboming van die gereg en is nie tot tronkstraf gevonnis nie, weens die feit dat sy twee jong kinders het. Sy het die onwettige wapen onder haar slapende drie-maande oue baba weggesteek toe die polisie na die wapen in hulle huis gesoek het. 

Die regter het haar gewaarsku dat haar oortreding baie ernstig is, en sy is drie jaar gevangenisstraf opgelê, opgeskort vir vyf jaar. Hy het ook gesê dat hy nie die familie wil vernietig nie, maar dat sy nou haar gesin alleen sal moet grootmaak.

Die regter het die regsverteenwoordigers van die gevonnisdes gewaarsku om baie mooi na te dink en behoorlik na die reg en wetlike voorskrifte vir oortredings te kyk voor hulle selfs daaraan dink om aansoek te doen vir appèl. 

Lees nog: 4de beskuldigde in hof in De Lange-moordsaak

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button