Johan Jardim: ‘Hy het altyd potensiaal in ander raakgesien’

Só word oud-Tommie-onderwyser Johan (69) onthou na sy onlangse afsterwe.

POLOKWANE – Met die aanvang van 1981 het Johan Jardim sy loopbaan as onderwyser by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé begin en hier word hy ‘n geliefde gesig op die skool se stoepe.

Op 22 Augustus word sy vriende en familie ingelig van sy afsterwe na ‘n lang siekbed.

Sy dogter, Ankia van Niekerk, vertel hy was ‘n streng maar regverdige pa. “Hy het altyd tyd gemaak vir sy kinders en ons kon oor enigiets met hom praat. Hy sou nooit sy advies op ons afdwing nie. Hy het potensiaal in elke persoon raakgesien en dan ook die persoon aangemoedig. Hy was baie godsdienstig, nederig en liefdevol. Hy het sy medemens gehelp waar hy kon.”

Johan is in Zambië gebore en het op 16-jarige ouderdom na Polokwane verhuis. Na skool het hy by Transvaal Paaie Administrasie (TPA) in Polokwane begin werk en word hy toe later na Pretoria verplaas om TPA opleiding te gee. Daarna het hy ‘n draai gemaak by SA Munt, Rustenburg Platinum Myne en Stilfontein Goudmyn, voor hy teruggekeer het na Polokwane om sy loopbaan in die onderwys te begin.

“Hy was gek oor sport, maar veral die soorte waarin ‘n mens as individu kon uit blink soos skietkompetisies en boogskiet. Hy het ook jukskei gespeel en selfs by die skool jukskei, skyfskiet en rugby afgerig. Hy het graag visgevang en gekamp en sy stokperdjie was om houtwerk te doen. Hy het ook altyd probeer om werk makliker te maak met een of ander uitvinding.”

Ankia vertel hoe hulle as kinders sy geselsies, raad, advies, liefde, geduld en natuurlik sy visvangstories sal mis. “Hy het ons geleer dat elke dag iets positief inhou en wanneer die lewe jou druk is dit goed om op jou knieë te gaan en te bid. Verder het hy ons geleer om ander te behandel soos ons behandel wil word, vriendelik te wees en te luister na ander. Onthou die goedheid van die lewe en vergeet dit wat jou laat huil het.”

Johan word oorleef deur sy jonger broer, Manie, dogter Ankia, seun Johan, skoondogter Natasha, lewensmaat Mollie, kleinkinders en agterkleinkinders.

Sy roudiens was op 27 Augustus by die Nuwe Apostoliese Kerk Polokwane gehou.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version