Oom Bok laat diep spore agter

Willem Bronkhorst (71), of Oom Bok soos die gemeenskap hom geken het, het diep spore in die gemeenskap getrap voor sy afsterwe op 26 Augustus.

POLOKWANE – Oom Bok is in Mokopane gebore en het later na Polokwane getrek.

Na hy sy skoolloopbaan voltooi het, was hy weermag en grens toe. Tydens sy 30 jaar by die polisie het hy betrokke geraak by die gewese Polisierugbyklub en mense in die rugbykringe verwys na hom as ‘n legende by dié klub asook die Verre Noord-span.

Sy seun Stephan vertel sy pa was met sy uittrede uit die polisie in 1994, ‘n adjudant offisier. “In 1995 het hy Bok se Tuisnywerheid begin. My pa is op 5 Augustus in die hospitaal opgeneem en op 6 Augustus het ons bevestiging gekry dat hy positief vir Covid-19 getoets het. Die virus het my pa baie siek gemaak en op die einde het my pa se hart ingegee.”

Stephan onthou sy pa as ‘n liefdevolle pa wat altyd uit sy pad uit sou gaan vir sy kinders en kleinkinders en altyd tyd sou maak vir hulle.

“Hy was ‘n goeie mens met die beste biltong en droëwors in die stad. Almal het geweet as hulle iets nodig gehad het, al was dit net ‘n oor om te luister, was my pa daar met raad. Hy was ‘n sterk man en het streng by sy morele waardes gehou. Hy was baie passievol oor sy rugby en mag dit nooit gemis het nie.”

Sy stories, liefde en aandag sal deur al sy familielede gemis word. “Ons gaan ook mis om vir hom drukkies te gee en vir hom te sê ons is lief vir hom.”

Hulle het by hom geleer om nooit oor aardse goed te bekommer nie, dat tyd saam familie meer kosbaar is en dat almal altyd moet lief bly vir mekaar en nooit kwaad gaan slaap nie.

“Dit is die belangrikste. Verder het ons geleer om God eerste in ons lewens te stel, want sonder God in jou lewe is jy verlore.”

Bok word oorleef deur sy drie kinders Jannie, Stephan en Elsophie Cronje, sy skoondogter Juani en kleinkinders Wian, Ewald, Kaylynn, Kyle, Zulieke, Rijanco en Willem-Louis asook drie susters en ‘n broer. Sy begrafnis vind plaas op 6 September om 11:00 vanuit die Agape Christen Gemeente Polokwane.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
 
Exit mobile version