Local NewsNews

Covid-19: Genisse se lang pad na herstel

Soos die Engelse spreekwoord sê: 'Never say never' sê Lida Genis kort na sy en haar gesin herstel het van die gevreesde virus.

MOKOPANE – Lida Genis sê sy en haar gesin het in die spreekwoord geglo tot die dag wat hulle begin siek voel het. “Ons het al die Covid-19 protokol nagekom, gesaniteer, maskers tussen mense gedra, sosiale afstand gehou, maar die virus is so hoogs aansteeklik dat ons dit steeds gekry het.”

De Graaff, haar man, het simptome begin toon op 11 Julie, Lida se simptome het op 14 Julie begin wys en hulle dogter Mariska, ‘n student wat tans aanlyn by die huis studeer, se simptome het op 16 Julie begin.

“Ons het besluit om ‘n Covid-19 toets te laat doen op 19 Julie wat toe positief gewys het.”

Lida sê mens is maar geskok en verslae wanneer jy die bevestiging kry omdat jy onseker is van die pad wat vir jou voorlê. Hulle het dadelik hulle huisdokter gekontak wat gesorg het vir voorgeskrewe mediksie.

“Van daar het ons bedrus geneem en die siekte kans gegee om homself uit te woed.”

Lida sê dat hoewel meeste mense meen dat dit ongeveer twee weke vat om oor die ergste simptome te kom, was Mariska net ‘n week baie siek waarna sy die versorging van haar ouers kon oorneem en hulle bystaan.

“Ons is oor die algemeen redelik aktief, speel jukskei en stap op die plaas, en aanvanklik het die bedrus ons nie gepla nie, omdat ‘n mens so ongelooflik siek voel en nie krag het nie. Ons het meestal geslaap as gevolg van die siekte en medikasie.”

Sy sê hulle het wel van die tweede week af minder geslaap en hulle eetlus het ook weer begin verbeter.

“Dis die wakker-lê tye wat die situasie en siekte met ons koppe gespeel het. Jy raak moedeloos, depressief en emosioneel.”

Na die tweede week van siekte was Lida al heelwat beter wat die simptome betref, maar het baie min krag gehad en nog steeds bedrus geneem.

“Die ergste was die aanhoudende hoes, hoofpyn en lyfseer en dan natuurlik toe De Graaff se suurstofnood begin het en die bekommernis daaroor.”

Lida sê daar het ongelukkig komplikasies by De Graaff ingetree.

“Hy het longontsteking opgedoen waarna ons ‘n suurstofsilinder en later ‘n suurstofmasjien by die Distrikslanbou Unie, (DLU) geleen het waarvoor ons baie dankbaar is. Hy moes permanent op die suurstof wees. Intussen het hy ‘n rib gekraak van al die hoes.”

Sy sê dat die gesin verlig was toe dit ‘n week later begin beter gaan het met hom. “Ons het probeer om hom van die suurstof af te haal. Hy het egter nog sieker geword en die longontsteking het vererger.”

Sy sê hy was tot Sondag, 15 Augustus nog op suurstof en begin nou tekens van beterskap toon.

Die gesin raai inwoners wat die virus het aan om hulle medikasie getrou te neem, te stoom of te nebuliseer en soveel as moontlik te rus.

“Probeer positief bly deur jou gedagtes op die positiewe te rig en nie op die negatiewe te konsentreer nie.”

Lida sê hulle kon positief bly deur al die vriende en famile wat hulle in hul gebede opgedra het, boodskappe gestuur het, kos aangedra het en Mariska wat getrou dag en nag, ten spyte van haar eie ongesteldheid en eksamen na hulle omgesien het.

“Ons is baie dankbaar teenoor ons Hemelse Vader wat ons deur hierdie siekte gedra het, want sonder Sy genade sou ons nie kon herstel nie.”

Die gesin bedank ook in besonder vir dr. Neels van Heetden, ds. Jaco Putter en Renita Prinsloo vir hulle ondersteuning en bystand en ook hulle bure, vriende en familie vir die getroue inloer en bemoediging.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button