Covid-19 ervaring gee vir Sue Wahl opnuut lewenslus

Die Koronavirus het vir Sue Wahl nuwe hoop vir die lewe gegee en sy deel haar ervaring met Review.

POLOKWANE – Reeds vanaf ‘n jong ouderdom het die lewe vir Sue Wahl ‘n hele paar uitdagings gebied.

As tiener was sy met depressie gediagnoseer en het probeer om haar lewe te neem. Haar pa het haar in die oë gekyk en die woorde ‘Jy sal doodgaan die dag wanneer jy op jou gelukkigste is, nie ‘n dag voor dit nie’ geuiter.

“Hierdie woorde was soos ‘n vloek oor my en ek was tot die dood toe bang om gelukkig te wees. Vir baie jare het geluk en vrede by my verbygegaan, want ek kon daardie woorde van my pa nooit vergeet nie. Ek het op 26 Junie vir die eerste keer in ‘n vreeslike lang tyd gesond genoeg gevoel om die lewe aan te pak. Ek het vroeg aangetrek en soos van ouds het ek my man in die voorportaal gaan verras.”

Hierdie geluk het egter nie lank gehou nie en ‘n ruk later toets haar man, Brandon, positief vir Covid-19. ‘n Paar dae later raak Sue ook siek en beland in die hospitaal, maar min het sy geweet hoe hierdie virus haar lewe sou aanraak. 

Sy deel haar Covid-19 ervaring met Review.

“Die ambulans het my kom haal en alles het in ‘n waas verby gegaan. Ek het erge hoofpyn en koors gehad. Die volgende oomblik praat ‘n internis met my en sê ‘Mrs Wahl, you do not do as much as wipe your nose. If you want it wiped, you ask for it to be done’.”

Sy was twee dae lank in die hospitaal gewees toe die dokters vir haar gesê het dat sy besig is om dood te gaan en dat hulle haar moet intubeer en ‘n C-pap masker moet opsit.

Die pers merke aan haar gewrigte en hande is nie van drips nie, maar eerder elke dag se snye wat hulle moes maak om die are effe oop te sny om ‘n bloed monster te kry.

“Dit was seker die mees vreesaanjaende woorde wat ek al ooit gehoor het. As gevolg van my verlede en persoonlike redes het ek ‘n Moenie Resussiteer-dokument (DNR) op my leêr gehad. Ek was taamlik klaar baklei om te leef, totdat leef al was waarvoor ek kon baklei. Tog, hier in die hospitaalbed met die dood wat vir my wink, smeek ek die dokter om voort te gaan met die intubasieproses en ek trek toe die DNR-dokument terug.”

Sue was volgens rekord vyf dae onder verdowing en dokters het haar met tye vir ongeveer vyf minute op ‘n slag uit die verdowing laat kom.

“In hierdie tyd was ek in ‘n gesprek met die Here. Ek het gesmeek en gesoebat, geskree soos ‘n besetene op soek na nog net een kans. Ek het ‘n stem gehoor wat vra ‘My kind, vertrou jy My nie?’ en terwyl ek huil en steeds histeries skree antwoord ek ‘Ja Here, ek doen’.”

Sue Wahl se gesig is opgeswel van die behandeling.

Sue het drie keer dié stem gehoor voor sy geweet het dat dit nie meer saak maak waar sy haar oë sou oopmaak sal nie, want sy sal óf by Jesus wees óf terug op aarde saam met Hom.

“Ek het, na die laaste keer wat ek Sy stem gehoor het, gebid ‘Here Jesus, my God, ek hoor U, laat U wil geskied. Ek kan nie daardie verligting verwoord toe ek besef het dat ek my hele bestaan en lewe net so in my Vader se hande toevertrou het nie. Kort hierna is ek onder die verdowing uitgebring en ek onthou hoe moeilik en seer dit was. Toe die pyp uit my lugpyp getrek word, het dit gevoel asof ek verdrink.”

Na 10 dae in die intensiewe sorgeenheid is sy na die hoësorg spesiale afdeling vir Covid-19 pasiënte oorgeplaas waar sy bykans ‘n week lank was.

“Ek het ‘n hele paar terugslae gehad, meestal suurstoftekorte en suurstofvlakke wat nie wou stabiliseer nie. Verder het van die medikasie sleg met my gereageer en ek kon nog nie self loop nie. Na 35 dae het ek skaars spiere in my bene oorgehad. Dis ongelooflik om te dink mens raak so vinnig so swak.”

Sue was na 41 dae in die hospitaal ontslaan en sy vertel sy was 51 dae lank siek. “Dit was een ongeloofwaardige ervaring wat ek geen mens in die lewe toewens nie.”

Sy gee ‘n motiverende boodskap: “Vir die wat nog ‘n kans kry na die tipe hel waardeur ek was: Ons is voorwaar ‘warriors’, want dit vat onmenslike uithouvermoë om hierdeur te kom. Nie net vir ons nie maar ons geliefdes ook.”

Lees meer oor haar wenke vir Covid-19 pasiënte in vandeesweek se Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version