LUR se plan: Word éérs ingeënt

Gesondheid-LUR Dr Phophi Ramathuba poog om diegene wat nie ingeënt is nie, te verhoed daarvan om drank aan te koop en toegang tot plaaslike sokkerstadions te verkry.

POLOKWANE – Talle inwoners het reeds hul misnoeë te kenne gegee oor Limpopo se LUR vir Gesondheid, dr. Phophi Ramathuba, se plan om meer mense teen die Koronavirus ingeënt te kry deur drankverkope te verbied vir diegene wat nog nie ingeënt is nie.

In ‘n artikel van Polokwane Observer verlede week, waar Ramathuba trots is op die feit dat meer as een miljoen inwoners in die provinsie reeds ingeënt is, het sy oor haar voorgestelde plan gesels.

Volgens die LUR behels die plan om onder meer die Suid-Afrikaanse Brouerye betrokke te kry.

“Ons wil hê dat hulle saam met ons moet werk, want hulle word swaar getref deur die Covid-19 pandemie. Ons wil he dat diegene wat nie ingeënt is nie, nie op hulle perseel toegelaat word nie. Eienaars van kroeë en shebeens moenie drank verkoop aan diegene wat nie ingeënt is nie. Diegene wat drank wil koop, moet hul inentingsertifikate as bewys kan lewer,” het sy gesê.

‘n Verteenwoordiger van die brouery kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

Ramathuba het in ‘n onderhoud met Jakaranda FM gesê dat hulle plan nie net tot die alkoholbedryf beperk sal wees nie, maar dat die departement ook ander industrieë sal nader.

“Ons wil ook die Premier Sokkerliga-base nader om die waarskynlikheid om toegang tot stadions te beperk tot slegs ondersteuners wat ingeënt is,” het sy opgemerk.

Ramathuba noem dat hoewel inenting nie volgens wet verpligtend is nie, mense ‘n “bietjie druk” nodig het om te verstaan ​​waarom hulle ingeënt moet word.

Sy het ook vroeër genoem dat hulle departement poog om meer as 3.5 miljoen mense teen Desember in te ent.

Volgens die departement se jongste syfers was daar slegs 94 nuwe Covid-19 gevalle in die laaste 24 uur aangemeld, terwyl daar 221 nuwe gevalle die dag tevore aangeteken was. 

Lees meer in vandeesweek se Polokwane Observer.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
 
Exit mobile version