Local NewsNews

Covid-19 eis Polokwane sakeman ‘met die omgeehart’

Die 38-jarige Stefan Prinsloo was vir twee weke in die intensiewesorgeenheid voordat hy Sondagoggend om 02:30 oorlede is.

POLOKWANE – Die strooptog deur Covid-19 duur voort: een van die jongste slagoffers is die bekende en geliefde plaaslike sakeman, die 38-jarige Stefan Prinsloo, voormalige eienaar en besturende direkteur van 4U Trailers en 4U Components. Hy het sedert Maart 2019 in vennootskap met Alko gewerk.

Op 14 Julie, die dag toe hy in die hospitaal opgeneem is, is sy laaste inskrywing op Facebook, met ‘n foto waar hy aan ‘n ventilator gekoppel is, bewys van sy liefde vir sy vrou, Daleen, en jong Johandré (16 maande): “Julle twee is die rede hoekom ek nie opgee nie…” Die egpaar is in November 2016 getroud.

Stefan was vir twee weke in die intensiewesorgeenheid voordat hy Sondagoggend om 02:30 oorlede is. “Sy hart het ingegee,” vertel Daleen.

‘n Hartseer Daleen deel hoe Stefan en sy ouers 4U Trailers as ‘n verhuringsmaatskappy begin het in ‘n houthuisie. Later het hulle uitgebrei en sleepwaonderdele vervaardig, en nog later sleepwaens begin bou. Hulle het in vennootskap met Alko gegaan en is in 2019 aangewys as die vennootskap van die jaar.

“Stefan het elke dag ten volle gelewe. Hy was ‘n diep gelowige Christen wat ‘n teologie-kursus asook ‘n Harvard besigheidskursus voltooi het. Hy was ‘n mense-mens en het altyd tyd gehad vir almal, of jy ‘n karwag of die hoof uitvoerende beampte van ‘n besigheid was. Hy het altyd geglimlag, was ‘n wonderlike pappa en só trots op sy seuntjie. Vir my was hy ‘n wonderlike lewensmaat.”

Sy swaer en vriend van 12 jaar lank, Carel van Niekerk, eggo Daleen se woorde: “Stefan was iemand wat sy Christenskap uitgeleef het. Hy het dryfkrag gehad altyd tyd gemaak vir mense. Geld het nie vir hom saakgemaak nie, mense wel. Almal wat hom geken het en met wie hy te doen gehad het, was vir hom lief. Hy was ‘n champ maar sy voete was plat op die aarde.”

Hans Nel, Stefan se vriend van 26 jaar en wie die laaste vyf jaar ook vir hom gewerk het, vertel dat Stefan die liefdevolste mens was, met ‘n bitter goeie omgeehart. “Hy wou net altyd mense help, en het hom bekommer oor almal wat swaargekry het en siek was. Hy laat ‘n groot leemte wat nie sommer gevul kan word nie.”

Tobie Steenkamp, Stefan se oom, vertel dat sy eie vrou dieselfde dag as Stefan in die hospitaal opgeneem is, en dat Stefan nog vir haar ‘n suurstofmasjien gebring het toe sy siek geword het. Sy vrou is ‘n week voor Stefan se sterfte ook oorlede.

“Hy was ‘n uitnemende kind, ‘n fantastiese mens. Hy het altyd oor die straat gestap om mens te groet as hy jou sien. My hart is uitmekaar geskeur. Hy het nooit enige kwaad in enige mens gesien nie en sou enige iemand help, selfs ten koste van himself.”

Behalwe vir Daleen en Johandré, laat hy sy ouers , Johan en Gerda Prinsloo, en swaer Carel en suster Lanie van Niekerk na.

Stefan se roudiens was op Vrydag by die N.G. Noord-gemeente gehou.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button