Só kan jy inskakel vir Dawie Botes se gedenkdiens

Die besonderhede oor Dawie Botes se gedenkdiens is bekendgemaak. 

POLOKWANE – Weldoener en veteraansakeman, Dawie Botes (79) wie Sondagoggend die stryd teen die Coronavirus in ‘n hospitaal in Durban verloor het, se gedenkdiens word Vrydag gehou.

Weens Covid-19 regulasies mag slegs ‘n beperkte hoeveelheid mense die diens bywoon, en die familie het dit goedgedink om dit ook aanlyn beskikbaar te stel.

Die diens sal vir dié wat die geleentheid nie kan meemaak nie, vanaf 11:00 op die volgende YouTube-skakel regstreeks uitgesaai word:

Huldeblyke 

Botes se boesemvriend en sakevennoot, Jannie van Waveren onthou hoe hulle net meer as ‘n jaar gelede Van Waveren se 78ste verjaarsdag by Bolivia Estate gevier het en teruggekyk het op ‘n vriendskap van meer as 60 jaar waartydens dié besigheid van krag tot krag gegaan het.

Hul paaie het as skoolseuns by Hoër Tegniese Skool Tom Naudé gekruis en dit het ontwikkel tot ‘n hegte vriendskap wat ook tydens hul weermagdae as dienspligtiges voortgesit is.

Botes het vir ‘n tydperk in Johannesburg en Pretoria in die banksektor gewerk en was betrokke by die ondersoek na die inkorporasie van banke wat later in die bankreus Absa ontwikkel het.

Die twee vriende het steeds in verbinding gebly en nadat Van Waveren sy sakebelange in die destydse Pietersburg uitgebrei het, het hy Alpha Sand & Klip gestig en sy eerste vervoerkontrakte vir steenkool vanaf Witbank na die Universiteit van die Noorde (nou Universiteit van Limpopo) aangepak. Botes het by Van Waveren aangesluit en Alpha Sand & Klip was gou in besigheid met twee langafstandtrokke.

Die twee vriende het ook begin om varkhokke vir die groeiende mark te bou.

“Ons het soggens om 03:00 opgestaan, varkhokke gebou tot 06:00 en dan werk toe gehaas. Daar was nie geld wat rondgelê het nie, ons moes alles self doen,” vertel Van Waveren.

Die jaar 1997 het ‘n nuwe dimensie in hul vennootskap gebring toe hulle Bolivia Lodge op ‘n veiling gekoop het.

Dié klein verblyfplek met ‘n klein saaltjie, 12 chalets en ‘n oop kombuis is opgegradeer en staan nou bekend as Bolivia Estate met 106 kamers en 16 lokale wat 3 200 persone per dag kan huisves.

“Dawie was baie trots op die groot hoeveelheid inheemse bome wat op die perseel aangeplant is en die sukses van dié onderneming kan in ‘n groot mate aan sy inisiatief toegeskryf word,” getuig Van Waveren.

Botes is gedurende 2010 deur die Pietersburg Sakekamer as die stad se Besigheidspersoonlikheid van die Jaar aangewys en was aktief betrokke by die plaaslike kommando.

“Die besondere respek wat Dawie vir almal om hom gehad het en sy oop hand vir sy medemens sal my altyd bybly. Sy lojaliteit en waardering vir elkeen se besondere gawes was ongekend.”

Van Waveren onthou Botes as ‘n baie privaat persoon wat nooit gekla het nie.

“Alles moes altyd balanseer en niks moes oorstaan nie. Hy was ‘n werkesel wat alles gegee het en nie sou ophou voor ‘n taak afgehandel was nie. Hy kon enigiets baasraak en het deeglik beplan en het niks aan toeval oorgelaat nie. Hoewel hy groot deernis vir sy medemens gehad het, kon hy luiheid, leuenaars en kansvatters nie verdra nie.”

“Dawie se afsterwe is vir ons as gesin ‘n geweldige skok en ons is dankbaar en trots op die legacy wat hy nalaat. Niemand sal sy plek kan volstaan nie. ‘n Vriend het vir my gesê ons sal nooit weet vir hoeveel mense hy iets in hulle lewe beteken het nie.

“Waar niemand gesien het nie, het hy hom altyd ontferm oor mense in nood en altyd probeer help waar hy kon. Ons eer hom as pa van ons gesin,” sê sy dogter, Lizelle Mayers.

Algemene bestuurder van Bolivia Estate, Chrezanne Dunkley onthou Botes as ‘n deeglike mens en ‘n “hands-on” bestuurder.

“Sy energie was aansteeklik en hy het altyd tyd gehad om na mens te luister en raad te vra en te gee. Die personeel het groot respek vir hom gehad en ons gaan sy hoflikheid en respek vir selfs die geringste werker nooit vergeet nie. Sy plek gaan leeg wees en ek gaan hom ontsettend mis,” sê Dunkley.

Die Hoof van Hoër Tegniese Skool Tom Naudé, Vanessa Kachelhoffer onthou Botes as ‘n oud-Tommie wat gereeld sy bydrae tot die skool gelewer het.

“HTS Tom Naudé is in rou gedompel na die nuus oor mnr. Dawie Botes se heengaan. As oud Tommie het hy diep spore in ons skoolgemeenskap getrap.

Vir die afgelope 31 jaar was sy deur altyd oop vir kaskarborge vir sy geliefde Tommies – so het hy mildelik teruggegee aan sy alma mater. Talle matriekafskeide en borge-aand gesellighede is by Bolivia Lodge gehou onder sy wonderlike gasvryheid.

“Sy hoflikheid, deernis en opregte bemoeienis met presies hoe dit met die Tommies en die skool gaan, sal ons altyd bybly. Voor elke reünie het hy die skool geskakel om te hoor hoe ons op sport, kultuur en akademie gebied uitgeblink en die pas aangegee het. Sy persoonlike bemoeienis om met elke hoofde-aanstelling die hoof persoonlik geluk te wens, was ‘n daad wat gespreek het van sy inbors en integriteit.

“Dawie was een van dié leerders wat met sy eie hande die gras op die A-veld geplant het na die skool van die Lugmagbasis na die huidige perseel geskuif is. Dawie se betrokkenheid en opregte belangstelling in ons as skoolgemeenskap sal tereg gemis word. Ons harte gaan uit na sy kinders en kleinkinders en ons gebede is dat hul vertroosting sal vind in die woorde van J. Charles Stern: ‘Die dood is nie ‘n terminus nie; net ‘n bushalte onderweg na die stad van heerlikheid.’

“Inderdaad ‘n engel wat gesterf het… Our thoughts and prayers are with his family and friends. The Tommies will miss you!”

Botes word oorleef deur sy eggenote Daphne en seun Eugene en skoondogter Sue, dogter Lizelle en skoonseun Mike Mayers en kleinkinders Estevan, Michelle, Kaylin en Michael.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version