Polokwane se oud-hooflanddros Marietjie du Toit sterf na kort siekbed

Marietjie du Toit (65) sal onthou word as 'n sterk vrou wat alles in haar vermoë sou doen om haar medemens te beskerm.

POLOKWANE – Die meeste mense wat oud-hooflanddros Marietjie du Toit geken het, beskryf haar as ‘n sterk vrou met ‘n sagte moederhart en ‘n persoon wat alles in haar vermoë sou doen om haar medemens te beskerm en te help. Om van haar skerp humorsin en hartlike lag nie te praat nie. Du Toit (65) is op Maandagaand (19 Julie) na ‘n kort siekbed in haar slaap weens ‘n hartstilstand oorlede.

Haar gesondheid het sedert ‘n beroerte in 2006 stelselmatig agteruitgegaan. Sy het in Potchefstroom grootgeword en was een van slegs drie vroue wat in 1975 aan die Universiteit van Noord-Wes se Potchefstroomkampus regte studeer het. In 1990 het sy en haar gesin hulle in Polokwane kom vestig waar sy as landdros en later hooflanddros van die Polokwane Landdroshof opgetree het.

Beide haar dogters was bevoorreg om deur hulle moeder in die eg verbind te kon word tydens die wetlike deel van hulle onderskeie huwelikseremonies. Haar passie was egter mense en veral vroue in nood.

Haar oudste dogter, Marki Franken onthou hoe haar ma die Rape Crisis Centre in die stad gestig en vir jare aan die gang gehou het: “Sy het ook honderde, dalk selfs duisende, gesinsgeweldslagoffers bygestaan en hulle soms selfs by ons huis kom wegsteek. My ma het net liefde in haar hart vir ander gehad en nooit ‘n wrok gedra nie. Sy het altyd gesê al wat ‘n kind nodig het is liefde en die res kom vanself. Sy was ‘n goeie ma en briljante ouma. My vriende kan getuig dat sy sommer ‘n ma vir hulle ook was en dat sy gereeld mense ‘aangeneem’ het, vir solank as wat ons haar geken het.”

Almal is dit eens dat sy na aan God geleef het en Franken voeg by dat haar ma nie kon wag om eendag in die hemel te kom en dan vir Jesus ‘n drukkie te gee en heeltyd te sing nie.

“My ma het altyd gesê niks is permanent nie. Ook nie ons pyn nie. Hare groei terug en mense is belangriker as materiële dinge.”

Du Toit se kleindogter, Amelie sê die een ding wat haar ouma haar geleer het is om altyd aan te hou veg, al is jy swak en om nie in die middel van iets net te stop nie.

Du Toit word oorleef deur haar dogters, Marki Franken en Jana Luüs, skoonseuns Gerhard Franken en Charl Luüs en kleindogter Amelie Franken. Sy laat ook haar broer Lawrie Wright agter.

Haar gedenkdiens was op Donderdag, 29 Julie gehou by die Taberna Dei Moederkampus in Jorissenstraaat.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version