Tronnie se afsterwe laat groot leemte

Johan Theron is Sondagmiddag aan Covid-verwante komplikasies oorlede.

POLOKWANE – Johan Theron (63), beter bekend as ‘Tronnie’ onder sy vriende, was ‘n lektor en die departementshoof van die Akwakultuurdepartment by die Universiteit van Limpopo, waar hy sedert 1983 verbonde was.

Vir sy vrou Anne, wie tans ook Covid-19 onder lede het, was hy die beste pa vir sy kinders, wat altyd gesorg het dat hulle aan niks gebrek ly nie, ‘n besondere mens.

Theron is Sondagmiddag aan Covid-verwante komplikasies oorlede. was 63 jaar oud. Hy en Anne was 36 jaar getroud.

Hy was ‘n kenner van vis- en watersuiwering en sirkulasiestelsels, en het talle artikels die lig laat sien op sy vakgebied.

“So baie mense, baie wat ek nie eers ken nie, het my al gekontak en hulde gebring aan Johan. Hy was baie geliefd onder sy studente,” vertel Anne.

Theron het sy meestersgraad met lof geslaag en het ook op die etiekkomitee van die universiteit gedien. Hy het ook verskeie lande namens die universiteit besoek, onder andere die VS, België, Israel en Libië.

Hy word oorleef deur sy vrou Anne, sy seuns André en Willem en ook Anne se suster, Joyce Swan en familie, vir wie hy ‘n voog was.

‘n Kollega en jarelange vriend, prof. Wilmien Luus-Powell, hoof van die dierkundedepartement by die universiteit en kollega vir die laaste 26 jaar, vertel: “Ons het baie saam veldwerk gedoen aangesien ons altwee se navorsing varswatervis, visgesondheid en besoedeling van ons varwatersisteme insluit. Johan het diep spore getrap in die akwakultuurwêreld van Suid-Afrika, en was seker een van die mense met die meeste kennis en kundigheid oor hersirkulasiesisteme en visboerdery. Hy het ook nie omgegee om hierdie kennis te deel nie en kon ure oor visse gesels. Hy was lief vir gesels en sy algemene kennis was verstommend.

“Johan was baie lief vir ou motors en geskiedenis, veral die van Suid-Afrika, met ‘n diep kennis van politiek. Hy het altyd geweet wat aangaan in ander lande, was baie lief vir lees en het enige tyd van die nag vir mens iets aangestuur wat hy interessant gevind het,” vertel Powell verder. “Tussendeur het hy ook klomp grappe aangestuur – ek dink sy dag het 26 ure gehad!

“Hy was mal oor die studente en wou altyd die beste vir hulle hê: Hy het hulle selfs geleer swem by die damme waar hulle gewerk het, of hulle nou wou leer swem of nie. Vir hom was dit belangrik, want hulle gaan eendag in water werk. “Hy was verseker geliefd en gaan so baie gemis word!”

Johan word deur sy vriende beskryf as een van die hulpvaardigste mense, wat lief was daarvoor om mense te help, en hy sou nie een oomblik huiwer om te help nie, hy het eintlik uit sy pad gegaan om mense te help, en een van sy kollegas noem dat hy jou sou help, selfs al vra jy nie eens vir hulp nie.

“Daar is so baie staaltjies oor Tronnie. Omdat hy so besig was, was sy gedagtes nie altyd by dit wat hy doen nie, wat soms skreeunsaakse gevolge gehad het. ‘n Storie wat graag vertel word is hoe hy ‘n dame oor ‘n stroom wou help. Al het sy gesé ‘nee dankie’, het hy haar wel opgetel en altwee het papnat in die stroom beland. By elke kampvuur of kuier is daar altyd Tronnie-stories oor wat hy alles onbepland aangevang het.

Hy was ook baie lief daarvoor om met sy hande te werk, hy het daarvan gehou om goed reg te maak of dit nou gebreek was of nie. Hy was ongelooflik lief vir die werk wat hy gedoen het by die universiteit – hy wou selfs vakansiedae werk en het ook. Sy verskoning was altyd hy moet na die visse gaan kyk.”

Anne sê omdat syself nog positief toets vir Covid-19 sal ‘n verassing plaasvind, en ‘n roudiens later vanuit die Hervormde Kerk Welgelegen plaasvind.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version