Hartaanval eis Polokwane prokureur en sakeman Rampie Smit

Rampie Smit (77) is vroeg Maandagoggend aan 'n hartaanval oorlede.

POLOKWANE – Polokwane het ‘n welbekende en suksesvolle prokureur en sakeman, Rampie Smit, vroeg Maandagoggend verloor.

Smit is kort na middernag aan ‘n hartaanval oorlede waar hy in ‘n privaathospitaal herstel het van Covid-19.

Smit was 77 jaar oud en het vir 47 jaar as prokureur in die stad gepraktiseer. Hy was ook baie bekend in die sakewêreld en het later jare meer op sy sakebelange en eiendomme gefokus.

Hy laat sy vrou, Linda, met wie hy 47 jaar getroud was, broer Nelius, skoonseun Phillip Visser en dogter Natasha agter.

Twee kleinkinders, Rueben en Shané gaan ook hulle oupa baie mis. Sy seun, Gericke, is tragies in 2009 vermoor, en dit het groot hartseer in die gesin veroorsaak.

“Rampie was ‘n man van integriteit wat sy familie altyd eerste gestel het. Hy het alles met oorgawe gedoen en was welbekend en baie suksesvol in die sakewêreld,” vertel Visser.

‘n Goeie vriend van Rampie, die apteker Gideon Joubert wat by Japie Visser Apteek gewerk het, sê dat hy sy beste vriend was, sedert hy (Gideon) in 1973 na die stad verhuis het.

“Hy was ‘n vriendelike en dinamiese man. Ons het saam gejag, kinders grootgemaak en saam gekaravaan. Ons het in 2003 na Pretoria verhuis, maar het steeds vriende gebly. Ek kan net goeie dinge van hom sê.”

‘n Ander vriend van 46 jaar, Neels van Rensburg van BB Auto, vertel dat hy sy “broer” verloor het. “Ons het van hulle meubels aangery, ek het hom kraamsaal toe gery met die geboorte van sy kinders, ons gesinne het twee, driemaal per week saamgekuier en geëet. Tot voor hy siek geword het het hy elke tweede dag by my gekuier en my ondersteun, aangesien my vrou Alzheimers het. My seun, toe hy my vanoggend skakel, sê dat hy sy tweede pa verloor het. Hy weet hoe na ons aan mekaar was.”

Sy broer Nelius Smit sê hy sal sy broer onthou as ‘n baie beginselvaste man met deursettingsvermoë wat vir hom altyd ‘n lewensles sal wees dat mens nie moet moed opgee met dit wat jy aanpak in die lewe nie.

“Ek sal sy gereelde besoek by my in die kantoor mis, ons geselsies, sy politieke insette en sienswyse en besigheidsbesprekings. Rus sag, Boeta!”

Sy dogter, Natasha sal die goeie herinneringe aan haar pa koester, Kersfees saam, saam kosmaak en haar pa se spesiale beesskofresep soos net hy kon maak, haar pa se omgee en “die vinnigry om voorraad te koop en die gou stop eers, by die ou tannie se kafee vir ‘n R10 se slaptjips koop”.

”Ons harte is leeg, ek gaan my pappa so mis!”

Sy vrou, Linda sê: “Ek het vanoggend afskeid geneem van my lewensmaat en steunpilaar. Jou plek langs my is leeg. Rus sag my man, tot ons weer sien.”

Reëlings vir die begrafnis was nog nie teen druktyd bekend nie.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version