Local NewsNews

‘Charles, ons gaan jou mis, ou maat’

Charles van der Walt (52) het Vrydagmiddag in 'n motorongeluk in die omgewing van Haenertsburg omgekom

POLOKWANE – Die onthou-oomblikke wat hulle gesin sal onthou saam met haar man, Charles van der Walt, is so legio, daar is te veel om op te noem.

Dis hoe sy vrou, Jacolien aan Review die gemis aan hom beskryf het wat die familie tans beleef.

Van der Walt het Vrydagmiddag in ‘n motorongeluk in die omgewing van Haenertsburg omgekom.

Lees meer: Makelaar, een ander persoon sterf in motorongeluk

“Hy was ‘n standvastige mens wat ‘n hart van goud gehad het. Hy sou uit sy pad gaan om ander mense te help. En hy was ongelooflik lief vir sy kinders.”

Die ongeluk rondom 14:30 Vrydagmiddag het ook die lewe geëis van Zaskia da Silva (29), terwyl haar suster Kayla (18) tans in die hospitaal in ‘n stabiele toestand is. Die Vervoerdepartement se Mike Maringa het gesê dit is waarskynlik dat die bestuurder van die motor beheer daaroor verloor het.

“Die motor het gerol nadat die bestuurder beheer verloor het.”

“Daar was geen ander voertuie betrokke nie,” het hy aan Review gesê.

Van der Walt was sedert 1989 aktief betrokke in die versekeringsbedryf.

Hy was die direkteur van CJ Makelaars, ‘n plaaslike saak wat korttermyn- asook lewensversekering aan kliënte verskaf.

Hy het sedert 1997 as ‘n makelaar gewerk. Terwyl die maatskappy se webtuiste sy passie vir die bedryf omskryf en vertel hoe sy personeel se professionaliteit sprekend is van Van der Walt se werksetiek, het tientalle inwoners intussen hul verlies na sy afsterwe op sosiale media te kenne gegee.

Huldeblyke

 Jarelange vriend van Van der Walt, Johan Zeelie het dié huldeblyk verskaf:

Wie is taaier as Charles? Wie het meer lewenslus as Charles? Wat sê ‘n ou van iemand vir wie jy soveel respek, soveel belangstelling in het, soveel waardering, soveel vertroue en so goed kon verstaan?

Dis werklik moeilik om te aanvaar. Charles, jou lag was magneties maar so was jou lus vir die natuur, kos, 4×4, kamp, vakansie, avontuur, mense, karre, adrenalien, braai, kuier en vriende. Maar daai goed gaan nie meer dieselfde wees sonder Charles nie, ‘n man van beginsels en vriendskap.

Getrou aan sy kerk, sy geloof en sy familie. ‘n Man wat trots was op wat sy gesin vermag het. Jou gesin gaan jou mis, my maat. Ek gaan jou mis.

Ek wens almal sterkte toe en krag wat deur Charles aangeraak is. Mag almal vertroosting kry en mag ons almal die lesse onthou wat ons ontvang het by die staatmaker vriend. Rus in vrede my maat.

Rotariër Horst Meyer sê hy sal Van der Walt onthou as ‘n weldoener wat ‘n oop hand gehad het vir ‘n goeie saak.

Charles sal onthou word as ‘n vriend, mede-Rotariër en ‘n weldoener wat altyd ‘n oop hand gehad het vir ‘n goeie saak. As Rotariër het hy vir die afgelope jare die 4×4-dag wat die klub aangebied het, met groot deeglikheid en sukses gereël. Geen moeite was te veel nie en hy het reeds lank vooraf roetes beplan en uitgemeet. Hy het ons na die mooiste plekke geneem – plekke waarvan ons al vergeet het!

Hy was ‘n uitstekende gasheer en mal oor kuier en braai.

Sy uitgaande geaardheid het mense na hom aangetrek en hy het ‘n verskil gemaak oral waar hy betrokke was. Sy deelname by die SAPD-klub, Mimosaklub, die gholfklub en die Agbare Orde van die Staaldakke (Moths), waar hy nooit teruggestaan het as bystand gevra is nie, sal ons altyd bybly.

As makelaar was hy bekend as ‘n deeglike person met ‘n besondere kennis van sy produkte. Charles het die ekstra myl vir sy kliënte geloop en nie opgehou voor ‘n nuwe kliënt tevrede was en die papierwerk afgehandel was nie. Rus in vrede!

• Begrafnisreëlings was nog nie teen druktyd beskikbaar nie.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button