Linki is sag tog ferm as koshuismoeder

Review gesels met Linki Roodt wat onlangs aangewys is as koshuismoeder by Hoërskool Pietersburg.

POLOKWANE – “‘n Sagte hart maar ferm beginsels,” só beskryf Linki Roodt in kort die rol van ‘n koshuismoeder.

Linki is onlangs aangewys as koshuismoeder by Hoërskool Pietersburg, na sy vir 12 jaar koshuisdiens as deel van haar take gehad het. Review het met haar gesels om uit te vind oor watter eienskappe ‘n mens oor moet beskik om ‘n ma vir 90 tienermeisies te wees en hoe sy dinge wat haar kant toe kom, hanteer.

“Jy moet verstaan dat kinders soveel meer as net reëls nodig het. Hulle het soms ook net iemand nodig om te luister. Jy moet kan verstaan dat elke kind anders is en dat jy by hulle moet aanpas in baie gevalle. Aan die ander kant, moet jy kan seker maak dat almal die reëls verstaan en volg en ook weet dat daar soms nie grys areas is nie.”

Ander eienskappe wat volgens haar belangrik is vir ‘n koshuismoeder sluit in betroubaarheid, deursigtigheid, etiek, sensitief maar ook pligsgetrou, georden en konsekwentheid met ‘n ferm hand in die toepassing van reëls.

“Die belangrikste is om ‘n goeie verhouding met die meisies te hê. Hulle moet weet dat hulle jou kan vertrou en dat jy hulle beste belange op die hart dra. Hulle moet wel ook gesag van jou kan aanvaar en verstaan.”

Soms is ‘n kind moeilik en daag dit ‘n onderwyser of koshuisouer uit, maar Linki vertel dit is belangrik om die tipe kind in ag te neem.

“Dit is dalk ‘n kind wat baie vryheid by die huis geniet en dan by die koshuis is daar reëls wat hulle nie pas nie. In so ‘n geval is dit baie belangrik om altyd konsekwent te wees. As hulle weet wat die verloop van die dag is en wat die reëls is, asook hoe dit toegepas word, sal hulle weet wat is die perke waarbinne hulle kan en mag beweeg. Daar is baie geleenthede vir die meisies om hulself te wees, hul sport te beoefen en aktiwiteite by te woon. Die reëls wat daar is, is net omdat daar 90 plus meisies is wat op dieselfde manier hanteer moet word. My werk sal dus wees om die saak so aan dié kind te verduidelik sodat die groot prentjie verstaan kan word,” verduidelik sy.

Linki noem dat daar baie plek vir individualiteit is, maar dat daar wel tye is waar hul as groepe dinge op dieselfde manier moet doen.

“My fokus sal dan wees om vir haar uit te wys waar sy haarself kan uitleef en steeds kan voel sy is haar eie mens.”

Die koshuis kan intimiderend wees vir ‘n kind wat nog nooit in ‘n koshuis was of weg van die huis af was nie en Linki verduidelik dis ‘n moeilike situasie aangesien só kind onafhanklikheid moet aanleer sonder dat sy alleen voel.

“In daardie geval probeer ons daardie kind in ‘n kamer plaas waar daar ander meisies is wat dieselfde temperament as sy het en haar kan bystaan. Dit is ook nodig dat ander meisies in ‘n graad net bo haar, haar ook bystaan dat sy kan sien daar is ander leerders wat al daardeur is en dat daar vooruitsigte is. Die beste is om al die aktiwiteite en pligte in klein seksies op te breek, sodat sy een ding op ‘n slag kan hanteer. Stelselmatig probeer ons haar by ander aktiwiteite betrek. Elke kind is anders, ons moet haar leer waar sy inpas maar om ook te verstaan dat almal op ‘n ander manier die koshuislewe ervaar. Sy moet dit op haar manier doen.”

Karaktereienskappe en lewenswaarhede wat Linki graag aan die kinders wil oordra sluit in verantwoordelikheid vir hulself en vir ander om hulle.

“Geen mens staan ooit alleen nie en jou aksies kan jouself en ander om jou beïnvloed. Die ander groot ding wat vir my verskriklik belangrik is, is dat jy jouself moet wees en nie moet toelaat dat jou individualiteit in ‘n boks gedruk moet word nie. Hulle moet geluk in hulself vind en in wie hulle is.”

Lees meer oor Linki en haar rol as koshuismoeder in vandeesweek se Polokwane Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version