Staan jou skoene vol, bemoedig Melané

Wat kan jy leer van verskillende tipe skoene? Melané de Villiers deel met jou:

POLOKWANE –  Skoene en alles wat daarmee gepaard gaan was Saterdag die hooftema tydens die As Die skoen Jou Pas Ma en Dogter Vrouetee.

Die tee is aangebied deur Melané de Villiers, wat ook een van drie sprekers was. Die ander twee sprekers was Wayne Burger en Jackie Rabé.

“Ek het ‘n nuwe skoenwinkel ontdek met die naam Liefde, Hoop en Geloof. Die eienaar van die winkel is Jesus Christus. Hy gee vir jou nuwe skoene om aan te trek, skoon gewas deur die bloed van Jesus.”

Melané het ‘n paar skoene bespreek:

1. Die skoen van vrees:
“Vrees by jou werk dat hulle jou gaan afdank as jy te veel foute maak, vrees dat jy nie ‘n goeie vrou vir jou man, of ma vir jou kinders is nie. Dié skoen van vrees is die mees ongemaklikste skoen wat jy in jou kas kan hê. Dit sluit in verwerping, onsekerheid, verandering en seerkry. Jy koop die skoen by die Vreeswinkel en wanneer jy dit koop is dit so gemaklik, maar later begin hy druk en ongemaklik voel en word hy gediagnoseer as depressie. So het ons baie vrese, maar vrees is ‘n teenvoeter vir geloof. God het nie vir ons ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar ‘n gees van oorwinning.”

2. Die warboel skoen:
“Hoe meer gemors daar in hierdie vrou se lewe is, hoe ongelukkiger raak sy. Sy sukkel om haar persoonlike en professionele lewe te skei. Sy sien elke interaksie met ander as geleentheid vir terapie en oplossings vir haar warboellewe. Sy is ‘n klakous en nie veel gefokus op die geestelike nie. Haar wanorde spreek van ‘n verwarde innerlike. Raad aan haar is om te begin opruim, aangesien dit terapeuties is. Keer terug na die Heilige Gees wat jou leiding sal gee met insig, wysheid en kennis hoe om jou deurmekaar lewe uit te sorteer.”

3. Sofar se susterskoen:
“Hierdie vriendin is sensitief en fyngevoelig. Jy moet op eiers loop en elke woord oordink voordat jy iets vir haar sê. Sy is onseker van haarself en voel die lewe is onregverdig teenoor haar. Sy sou ‘n beste vriendin kon wees, as sy net nie so fyngevoelig was nie. Hierdie vrou het nodig om haar ware identiteit in Christus te vind. Sodra sy weet wie sy in Hom is, sal haar selfbeeld ‘n hupstoot kry.”

4. Die leë-lampie skoen:

“Hierdie vrou lyk vir ‘n lank tyd goed en niemand weet hoe leeg haar oliebak eintlik is nie. Sy voel skuldig oor wat in haar geestelike lewe aan die gang is. Sy weet haar siel is onversorgd. Sy het kennis wat goed en kwaad is, maar veral die kwaad. Sy voel gemakliker in mans se geselskap as in die van vroue. Hierdie vrou het ‘n radikale ontmoeting met God nodig om haar leë lampie te vul sodat sy nie haar vervulling op ander plekke hoef te soek nie.”

5. Die beste mamma skoen:
“Haar bekommernis is nie of sy haar werk goed genoeg doen nie, want sy weet sy is goed in wat sy doen. Haar werk is nie haar obsessie nie; haar kinders is. Haar bekommernis is ongegrond en dit veroorsaak dat sy nie haar volle fokus op die nou kan plaas nie. Sy begeer afsprake met haar vriendinne, maar is te besig met haar kinders. Hierdie vrou het nodig om God te vertrou om na haar gesin om te sien. Sy het nodig om haar kinders ‘n bietjie ruimte te gee.”

6. Die vieruurtjie skoen:
“Hierdie vrou was altyd ‘n tuisbly ma en nou dat haar kinders uit die huis is, of haar man oorlede is, moet sy uit gaan en gaan werk. Sy is egter onseker oor wat in die beroepswêreld aangaan. Sy wil graag dinge reg doen, maar haar grootste vrees is dat sy ‘n gek van haarself gaan maak, terwyl sy waarskynlik een van die bestes in haar gebied sal wees. Sy is onseker oor haarself en haar vermoëns. Sy het nodig om te weet sy is tot alles in staat deur Christus wat haar krag gee.”

7. Geel madeliefie skoen:
“Sy is jonk en reg vir die lewe, vol drome om ‘n verskil te maak. Sy is ambisieus en wil God met alles wat sy doen verheerlik.”

8. Verlepte madeliefie skoen:
“Dit is Geel Madeliefie drie maande later. Sy wou ‘n verskil maak, maar die lewe het haar verander. Sy wil net moed opgee en huis toe gaan. Hierdie vrou moet nie so gou moed opgee nie, almal was jonk en onervare en het so bietjie lewensopleiding gekort. Elke fase van die lewe het beginners. Hy is die lig op jou pad en Hy maak ‘n weg vir jou.”

9. Die koelkop skoen:
“Hierdie vrou is ‘n staatmaker. Sy dink eerste aan ander eerder as aan haarself. Sy is haarself, hou van mense en geniet dit wat sy doen. Sy is nie ‘n supervrou nie, en haar lewe is nie sonder probleme nie. Ondanks alles is sy koelkop en kla nooit. Sy hou haar seer binne en almal dink sy is oukei. Hierdie vrou vind haar rus in Christus, Hy is die krag wat haar regop hou.”

10. Die doelgooier skoen:
“Hierdie vrou word genoem die doring en deurdrukker. Sy het alles agtermekaar. Sy het geleenthede raakgesien en aangegryp. Sy kan kritiek vat en op haar eie voete staan. Sy is ‘n geestelike leier.”

11. Die multi-vitamien skoen:
“Hierdie vrou is ‘n perfeksionis en slegs ‘n groot krisis sal haar laat erken dat sy nie meer weet waaroor menswees gaan nie. Sy raak obsessief oor haar werk en sukses en sluk energie en multi-vitamien pille soos klokslag. Sy het nie tyd vir treur of om ekstaties dankbaar te wees nie, sy is te besig. Die enigste aanduiding dat daar dalk iets verkeerd is, is die kalmeerpille in haar handsak. Vir hierdie vrou sê God: ‘Kom rus in My’.”

“Jesus Christus nooi jou uit om vandag nuwe skoene aan te trek. Skoene wat Hy vir jou gee. Skoene wat jou hoop sal gee. Jy sal nooit weer twyfel, vrees of wankel nie, want Christus sal jou krag en fokus wees.”

Lees meer oor die As Die skoen Jou Pas Ma en Dogter Vrouetee in vandeesweek se Polokwane Review.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version