Só loop die inentingsproses vir plaaslike inwoner

Martha Hofmeyr Ouetehuis inwoner, Sannie Roos gaan stap-vir-stap saam met Review deur die inentingsproses.

POLOKWANE – Daar is al talle kere genoem dat dit belangrik is om teen die Koronavirus ingeënt te word, maar hoe werk die proses?

Review het vanoggend by Martha Hofmeyr Ouetehuis gaan aanklop om die proses saam met inwoner, Sannie Roos, deur te gaan.

“Ek dink dit is goed dat ons bejaardes ingeënt word teen die virus. Ons het almal vrywilliglik geregistreer hiervoor.”

Sannie het geduldig op een van die stoele buite die Vergeet-My-Nie saal gesit en wag. Nie lank daarna nie kon sy in die saal in gaan om die eerste van twee vorms in te vul.

Sannie Roos se keuringsvorm word ingevul.

Op hierdie vorm is basiese keuringsvrae gevra, soos of die pasiënt hoes, keelseer het of in aanraking was met iemand wat positief vir Covid-19 getoets het.

Daarna moes sy wag vir die Departement van Gesondheid om die registrasievorm saam met haar in te vul, en hierna is sy na suster Christina Mapara geneem wat nog ‘n paar vrae gevra het.

Suster Christina Mapara kry die entstof reg terwyl Sannie Roos die finale papiere teken.

“Sy het my gevra op watter skouer ek die inspuiting wil hê en toe my linkerskouer skoongevee met ‘n alkohollappie. Ek is effens bang vir naalde, maar sy het my so sagkuns en vinnig ingespuit, ek het nie nog kans gehad om te skree nie,” verduidelik sy.

Suster Christina Mapara ent Sannie Roos in teen Covid-19.

Sannie vertel die spuit was glad nie seer nie en suster Mapara was baie vriendelik en hulpvaardig.

“Sy het die hele ervaring vir my baie aangenaam gemaak,” voeg sy by.

Sannie moes toe vir ongeveer 10 minute rustig in die saal verkeer voor sy na haar eie huis kon gaan. Dié is net om seker te maak sy voel nie sleg na die spuit nie.

Die LUR vir Gesondheid, Dr Phophi Ramathuba het vanoggend talle ouetehuise in die stad besoek om seker te maak die inentingsproses verloop glad. Sy het self hand bygesit om seker te maak die bejaardes word mooi gehelp.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
Exit mobile version