Michelle, mamma vir vele

Michelle van Staden, ma van drie, word naskool tannie, mamma en naskool juffrou genoem.

POLOKWANE – Om ‘n ma te wees is vir meeste vroue ‘n seëning, en groot werk. Michelle van Staden, ma van drie, het besluit sy sien kans vir ‘n uitdaging en word naskool tannie, mamma en naskool juffrou genoem.

“Ek is lief vir kinders en wil graag ‘n loopbaan volg waar ek met hulle kan werk. Toe die pos vir naskool tannie by Osieteddies Kleinkindontwikkelingsentrum oopgaan, het ek dus aansoek gedoen. My seuntie van vier jaar is in Osieteddies en met hierdie werk kan my ander twee kinders ook na skool by my wees. Hulle is onderskeidelik sewe en nege jaar oud.”

Michelle en ‘n kolega sorg vir die twee- tot vierjariges en sy vertel hoe hulle diep in ‘n mens se hart inklim. “Ek hou hulle altyd oor ‘n afstand dop. Met die dat ek reeds my eie kinders het, is ek baie meer geduldig met ander kinders. Ek geniet elke kind vir wie en wat hulle is. Hulle oulike stories en pittige sêgoed vrolik enige dag op. Ek geniet dit om met hulle in gesprek te tree. Van die kinders wat nou reeds in die laerskool is, onthou my en sal groet as hulle my sien,” sê sy.

Sy lag as sy dink aan die dae wanneer almal gelyk huis toe of badkamer toe wil gaan. “Selfs al is dit soms uitdagend, is dit altyd lekker. Met my eie kinders by my, skeep ek hulle nie af nie en al is dit soms vir hulle moeilik, moet hulle ook voldoen aan die naskool reëls van Osieteddies.”

Moedersdag is in die van Staden huis nie ‘n baie belangrike dag nie, maar Michelle vertel sy word elke dag so omring deur kinderliefde dat dit nie saak maak nie.

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version