Polisie konfiskeer meer as honderd duisend Rand se dwelms in Polokwane

In 'n afsonderlike geval, is 'n 35-jarige man gearresteer nadat R30 000 se dwelms by sy huis in die Westenburg polisiëring-gebied gevind is.

Die provinsiale polisie se gesamentlike operasies het vrugte afgewerp, nadat altesaam 1 473 verdagtes gearresteer is die afgelope week.

Die operasies was in al vyf distrikte van die provinsie uitgevoer en verdagtes was gearresteer vir verskeie misdade wat wissel van die besit van beskermde spesies, moord, poging tot moord, inbrake, diefstal en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Volgens Polisiewoordvoerder, Kol Moatshe Ngoepe het die Limpopo Snelwegpatrolliespan inligting ontvang oor mans wat in die Capricorndistrik met dwelms handeldryf.

Foto: SAPD

Ngoepe het aan Polokwane Observer verduidelik dat die span Vrydag, 26 Maart, die inligting opgevolg het wat hulle na ‘n huis in uitbreiding 75 in die Westenburg polisiëring-gebied geneem het.

“Die huis is deursoek en verskeie sakkies kristalmetamfetamien en dagga met ‘n geraamde straatwaarde van meer as R30 000 is gevind. Die 35-jarige eienaar van die huis is toe gearresteer,” verduidelik Ngoepe.

Foto: SAPD

In nog twee afsonderlike gevalle, is twee mans; 27 en 32 jaar oud onderskeidelik, gearresteer vir die besit en handel van dwelms.

Ngoepe sê die mans is in Flora Park en Bendor gearresteer nadat daar op nyaope, cat en kristalmetamfetamien beslag gelê is.

Foto: SAPD
Foto: SAPD

“Die dwelms het ‘n straatwaarde van meer as R140 000 en daar is ook kontantbedrae gekonfiskeer. Die 32-jarige verdagte is verder van omkopery aangekla omdat hy na bewering probeer het om die polisie met R4 000 om te koop,” voeg Ngoepe by.

Die waarnemende Provinsiale Polisie Kommissaris, Gen Maj Samuel Manala, het die polisie bedank vir hul toewyding en vasberadenheid in die stryd teen die plaag van dwelms en ander ernstige misdade regoor die provinsie.

“Die verdagtes het op verskillende aanklagtes voor verskillende landdroshowe verskyn. Die oorsprong van die gesteelde items sal steeds bepaal word deur polisieondersoeke,” sluit Ngoepe af. 

Exit mobile version