Langpad se tog met kruis om hoop te bring

Die son, wind en weer skrik nie 'n groep van vyf manne af om met hulle houtkruis vanaf die Kaap tot in Musina te stap nie.

Die mans van verskeie provinsies het Woensdagoggend by Bosveld aangeklop. Reini Coetzee, leier van die span, vertel hy het reeds in 2016 sy eerste 40km afgelê met die yslike kruis. In 2017 het hy weer die pad aangedurf en in 2018 het hy vanaf Oos-London tot in Jeffreysbaai gestap. Hy vertel hoe hy ‘n visioen gesien het dat hy weer die pad moet aandurf. Op 18 September verlede jaar, het hy in Kaapstad in die pad geval met die reuse kruis wat op ‘n wieletjie gemonteer is en getrou saamgetrek word. Hulle beplan om teen Vrydag, 2 April in Musina aan te kom.

Die span wat nou hier is, is wel nie die oorspronklike groep wat weggespring het in Kaapstad nie. Twee van die oorspronklike lede, Reili en Sive Mjoli is steeds aan die stap terwyl Tertius de Swardt, Abraham Mahlangu en Claus Coetzee by die span aangesluit het in Allendale in Gauteng.

Reili sê die opdrag wat die manne van die Here gekry het, is om in die wêreld uit te gaan en die Woord te verkondig.

“Ons bid ook vir herlewing, vir eensgesindheid in die land, vir mense daar buite en sien die kruis as hoop.” Reili verduidelik dat daar mense is wat aangeraak moet word en ‘n ontmoeting met die Here nodig het.

Die span staar daagliks verskeie uitdagings in die gesig, van gure weerstoestande, verbygaande verkeer, teenstand vanaf familielede, asook emosionele ontberinge, maar Reili verduidelik dat die span alles doen deur geloof. “Ons was nog nooit sonder kos of slaapplek nie. Die Here se hand is met ons en Hy sorg vir alles.”

Die groep mans stem saam dat dit ‘n lewensverandering is en dat hulle geestelik groei, elk met sy eie doel en ervaring. Vir hulle is dit belangrik om harte aan te raak en hoop te skep in ‘n wêreld van donkerte.

Met die einde in sig is die groep gereed om die bosveld se skoonheid aan te durf en die laaste 260km met mening aan te pak tot by hulle eindbestemming.

bosnews@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version