Meeste Limpopo damme steeds oor hul kapasiteitsmerk

Die weeklikse verslag van die Departement van Water noem dat die opgegaarde water tans 1 295,6m³ uit ‘n kapasiteit van 1 480,1m³ opneem.

Meeste van die damme in die provinsie is steeds oor hul kapasiteitsmerk en toon ‘n merkwaardige verbetering van verlede jaar, toe die provinsiale waterberging in dié tydperk op ‘n laagtepunt van 70,4% was.

Die department se Woordvoerder, Sputnik Ratau, sê al het die provinsiale waterberging afgeneem van verlede week se 88,8% na 87,5% vandeesweek, is dit steeds op ‘n stabiele toestand. 

“In die Vhembedistrik het Nandonidam, wat deur die Levhuvhurivier voorsien word, hierdie week afgeneem van 103,4% verlede week tot 102,8% hierdie week. Die dam was verlede jaar op hierdie tydstip 101,6% vol. Vondodam het ook vandeesweek tot 101,7% afgeneem, van verlede week se 102,0%,” noem Ratau.

Die De Hoopdam in Steelpoort, wat die gemeenskap van Sekhukhune en die plaaslike mynbedrywe verskaf, staan hierdie week op 96,9%, wat ‘n afname van verlede week se 97,4% is,

“Flag Boshielo Dam is steeds op volle kapasiteit met 100,9%, al is dit ‘n effense afname van 102,3% verlede week. Die dam het verlede jaar 99,6% aangeteken op hierdie tydstip,” sê hy.

Die Ebenezerdam in Groot Letaba, wat die meerderheid van die gemeenskappe rondom Polokwane voorsien, het vanaf 84,1% verlede week gestyg tot 88% hierdie week. Verlede jaar op dieselfde tydstip, was die dam op 24% vol.

“Die Mokolodam in Mokolorivier het ‘n groot verbetering tenoor verlede jaar hierdie tyd. Die dam is op 101,2% vol, tenoor 62,2% verlede jaar. Tzaneendam, wat water aan boere verskaf vir besproeiing in die gebied, het afgeneem van verlede week se 101,9% tot 101,1% vandeesweek. Hierdie dam was verlede jaar op hierdie tydstip op ‘n laagtepunt van 26,4%,” voeg hy by.

Volgens die verslag het die Middel Letabadam se vlak vandeesweek geklim, maar is steeds op ‘n kritieke lae vlak van 12,4% teenoor verlede week se 12,2%.

“Dit is steeds ‘n verbetering van toe dit verlede jaar op hierdie tydstip op 4,9% gestaan het. Die Doorndraaidam in die Sterkrivier het hierdie week ‘n verbeterde 39,8% aangeteken in vergelyking met verlede week se 38,9%. Hierdie is ‘n verbetering in vergelyking met 13,5% op dieselfde tydstip verlede jaar,” sê Ratau.

Ratau sê ten spyte van hierdie verbeterings in Limpopo se damvlakke, doen die departement steeds ‘n beroep op verbruikers om water spaarsamig te gebruik, aangesien water ‘n skaars hulpbron is.

Exit mobile version