Wat sou jy doen met R51 miljoen?

'n Man van Polokwane het onlangs die Powerball-boerpot van R51 miljoen gewen. Hy deel sy verhaal en toekomsplanne:

Die wenner van die R51 miljoen PowerBall-boerpot van Dinsdag, 2 Maart, is’n man van Polokwane.

Volgens Ithuba, die nasionale lotery-operateur, het die 30-jarige wenner sy kaartjie by OK Mini-Market in Polokwane gekoop.

“Die man het R30 spandeer op sy kaartjie en het persoonlik sy nommers gekies,” noem Ithuba se verklaring.

Die man het aan Ithuba vertel dat hy nou uiteindelik sy droom om ‘n maatskaplike werker te word, kan nastreef.

“Ek wou na matriek vir ‘n kwalifikasie in maatskaplike werk studeer, maar daar was ongelukkig nie geld om my universiteit toe te stuur nie. Ek moes dus werk soek om my gesin te help,” verduidelik hy.

Ondanks sy nuwe miljoenêr-status, wil die wenner steeds sy droom kwalifikasie onder sy knie kry.

“Om hierdie geld te wen beteken nie dat ek my droom kwalifikasie moet laat vaar nie – dit het nooit net oor my gegaan nie. Dit het my nog altyd gepla om te sien hoe jong kinders in my omgewing swaarkry. Hulle ouers ontvang maatskaplike toelaes, maar mors uiteindelik net die geld op hul eie behoeftes. Ek wil in staat wees om effektiewe en volhoubare hulp aan my gemeenskap te bied, en om die maatskaplike werk-kwalifikasie te verwerf, sal my help om dit te doen,” verduidelik hy.

Die man wil ook graag die bouwerk aan sy gesin se woning voltooi.

“Ek het ‘n paar jaar gelede vir my gesin ‘n huis begin bou en het weens finansiële beperkings gesukkel om dit te voltooi. My pa is onlangs oorlede voordat hy die finale produk kon sien. Ek is dankbaar dat my ma die geleentheid sal kry om in haar droomhuis te kan woon, aangesien ek van plan is om ‘n gedeelte van die geld aan die voltooiing en inrigting van die huis te spandeer.”

Ithuba se Uitvoerende Hoof, Charmaine Mabuza, het die wenner geluk gewens.

“Dit is altyd wonderlik om te getuig hoe lotery-boerpotjies mense se lewens verander – dit is waarna ons altyd as operateur mik. Hierdie geld kon nie na ‘n meer verdienstelike persoon gegaan het nie. Ons het meer mense nodig wat teruggaan na hul gemeenskappe toe, en praktiese hulp bied,” het Mabuza gesê.

Ithuba bied traumaberading aan wenners van R50 000 en meer, asook finansiële advies.

Die wenner het gesê dat hy ‘n beduidende deel van sy wengeld sal belê en van die rente sal leef.

Exit mobile version