Local NewsNews

4de beskuldigde in hof in De Lange-moordsaak

Die saak sal nou op Donderdag (11 Maart) in die Hooggeregshof in Polokwane begin nadat nog 'n beskuldigde in die saak gearresteer is

POLOKWANE – Die verhoordatum van die moordsaak op Konstabel Pieter de Lange is Maandag weereens uitgestel nadat dit reeds verlede week Maandag ook uitgestel is.

Die saak sal nou op Donderdag (11 Maart) in die Hooggeregshof in Polokwane begin nadat nog ‘n beskuldigde in die saak gearresteer is. Hy het verlede Woensdag in die hof verskyn, en die saak is uitgestel sodat al die beskuldigdes tesame sou verskyn vir die begin van die verhoor.

Maandag het twee beskuldigdes, wat in Pretoria aangehou word, laat opgedaag by die hof, en Regter Muller het om 11:00 voortgegaan met die saak. Die regsverteenwoordiger van beskuldigde nommer vier het egter weens siekte nie opgedaag nie.

De Lange is op 8 November 2018 noodlottig gewond toe vier gewapende mans hom tydens ‘n verbyryskietery geskiet het. Hy was vir 11 jaar aan die polisie verbonde en was lid van die Westenburg-polisiestasie toe hy op die hoek van Witklip -en Bulawayostraat geskiet is terwyl hy en ‘n lid van die Ladanna gemeenskapspolisiëringsforum besig was met ‘n dwelmondersoek. Twee voertuie, ‘n wit Mercedes Benz en ‘n wit BMW het langs die voertuig waarin Pieter gesit het, stilgehou, gewapende mans het uit die voertuie geklim en op hulle begin skiet. De Lange is op pad na die hospitaal oorlede. Die lid van die gemeenskapspolisiëringsforum is nie in die voorval beseer nie.

‘n Saak van moord is geopen en ‘n 31-jarige verdagte was die eerste van drie verdagtes wat by sy huis in Seshego gearresteer is. Hy het op 28 Januarie 2019 in die hof verskyn. ‘n Ongelisensieërde vuurwapen en ‘n vermoedelik gesteelde voertuig is gevind en kort daarna is nog twee verdagtes vasgetrek. Van die verdagtes word ook in ander sake verhoor. Die Valke, Ernstige Misdaad Ondersoekeenheid, Limpopo Kriminele Intelligensie-eenheid en Westenburg polisie het aan ‘n gesamentlike operasie deelgeneem om die verdagtes vas te trek.

Die saak is al ‘n paar keer uitgestel, onder andere toe van die beskuldigdes in ander howe moes verskyn het op ander aanklagte teen hulle.

editor@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group.

Related Articles

Back to top button