Local NewsNews

Kabeldiewe vasgetrek in Bendor

Twee verdagtes se planne is in die wiele gery tydens 'n fietspatrollie.

Lede van die Bendor & Sterpark Sekuriteitsforum (BSSF) het met die hulp van kontruksiewerkers van ‘n nabygeleë ontwikkelling op hulle toegesak.

Dit nadat BSSF-lede van die fietspatrollie ongeveer 04:15 die verdagtes in Leighrylaan betrap het waar hulle besig was om kabels te steel. ‘n Bakkie wat reeds met kabels gelaai was is ook naby die toneel gesien.

“Toe forumlede op die verdagtes toesak, het hulle laat spaander en die bestuurder van die bakkie het weggejaag. Forumlede het die verdagtes agterna gesit en een vasgetrek. Bystand is ingeroep terwyl ‘n tweede verdagte in die bos tussen Jaguar Polokwane en Italtile weggekruip het. BSSF-lede en konstruksiewerkers het die bos ingevaar tot waar hulle die verdagte opgespoor en aan die polisie oorhandig het,” sê BSSF-voorsitter, Johan Retters.

Polokwane polisie se honde-eenheid was ook op die toneel om met die soektog te help. Retters het die BSSF-lede en konstuksiewerkers bedank en sy misnoeë uitgespreek nadat hy drie keer 10 111 geskakel het sonder dat iemand antwoord. Hy het ook die Polokwane Polisiestasie geskakel, maar is na 10 111 terugverwys.

Polokwane Polisiewoordvoerder, Lesiba Ramoshaba is bewus van die diefstal, maar kon nie verdere inligting verskaf nie.

Related Articles

Back to top button