Local NewsNews

SAAI loods projek om boere teen onwettige besettings te beskerm

Die Suider-Afrika Agri Inisiatief (Saai), 'n landbounetwerk vir familieboere, het Vrydag 'n digitale plaasnaambordprojek geloods.

Saai noem hulle is diep bekommerd oor die verskerpte voorkoms van grondbesettings in Noordwes, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal, en die polisie se onvermoë of onwilligheid om daarteen op te tree.

“Buiten om ’n lawaai daaroor te maak en die wêreld se aandag deurlopend daarop te vestig, sal daar iets daadwerkliks gedoen moet word. Enersyds sal privaat inisiatiewe die fondasies moet oorneem van owerhede wat versuim om eiendomsreg te beskerm, en aanvul waar die staat tekort skiet,” voeg hulle verklaring by.

Saai sê hulle het juis vir hierdie rede die projek op die been gebring.

“Buiten dat Saai baie sterk voel oor ’n familienaam langs ’n plaasnaam teen ’n hekpaal, het die netwerk ook moeite gedoen om die nuutste tegnologie aan te wend om plase nie net fisies nie, maar ook op beleidsvlak, ten opsigte van dienslewering teen onwettige besettings te beskerm. Vir dié doel word ’n betredingswaarskuwings in verskillende tale en QR-kodes op elke bord aangebring,” noem hulle.

Wanneer dié QR-kodes (Quick Response kodes) ontsluit word, gee dit die boer toegang tot ’n verskeidenheid van funksies.

“Een voorbeeld is volledige regsadvies wat deur regslui opgestel is en aan die grondeienaar of enige ander belanghebbende leiding kan gee oor hoe om grondbesettings te hanteer. ’n Ander QR-kode gee jou toegang tot ’n klagtevorm wat digitaal opgestel, ingevul en ingedien kan word. Dit registreer outomaties ook by Saai, waar ons regspan dit gereeld sal opvolg om te verseker dat die polisie ’n saak oopmaak en iets daarom doen,” voeg hulle by.

Enige familieboer kan dié plaasnaamborde by Saai se webtuiste by www.saai.org bestel.

“Uit ervaring wat Saai en ons netwerkvennote oor die afgelope twee jaar opgebou het, weet ons dat dit die afsonderlike, klein pogings van groot getalle gewone, vredeliewende Suid-Afrikaners is wat gesamentlik die deurslaggewende gewig verleen om ’n nasionale impak te hê,” verduidelik hulle.

Die familieboerorganisasie wil hierdie “liggewig, maar duursame plaasnaamborde” regoor die land oprig om “’n hou te slaan teen betredings, besettings en plakkery op plase”.

Saai noem dat hulle reeds ‘n regspan op die been gebring het wat, hulle glo, vinnig en doeltreffend op klagtes kan reageer.

“Laat ons die ruimtes in die reg maksimaal benut om eiendomsreg te beskerm, in sowel die kleine op grondvlak in jou omgewing en op jou plaas as op nasionale vlak, waar beleidmakers en besluitnemers verantwoordelik en aanspreeklik gehou moet word,” sluit hulle af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button