Local NewsNews

Provinsiale rede 2021: ‘As ons saamwerk, kan ons die Limpopo bou wat ons wil hê’

Limpopo se Premier, Stanley Mathabatha het vanoggend die Provinsiale rede virtueel gelewer vanuit die Provinsiale Wetgewer in Lebowakgomo.

Mathabatha het genoem dat die regering vanjaar op programme gaan fokus wat Limpopo na nuwe hoogtes in terme van sosio-ekonomiese welvaart, ontwikkeling en groei sal neem.

Limpopo se sosio-ekonomiese herstelplan

‘n Bedrag van R3,5 miljard is opsy gesit om die beskikbare hulpbronne te vergroot om die regering se plan te bevorder.

“‘n Groot gedeelte van hierdie bedrag gaan aan die sosiale groep, wat gesondheid, onderwys en sosiale ontwikkeling insluit. Menslike ontwikkeling en die welstand van ons mense is noodsaaklik,” het hy bygevoeg.

Mathabatha sê R500 miljoen van die bedrag is bewillig om ondernemingsontwikkeling, boereondersteuning en padinfrastruktuur te ondersteun.

Landbousektor

“Die landbousektor het ongeag gedurende hierdie moeilike tye van Covid-19 ‘n positiewe groei beleef . Ons het sedertdien ‘n bedrag van R57,5 miljoen bewillig om die hulpverleningsprogram vir boere te finansier. Ons glo dat hierdie pakket ons boere sal help en die impak van Covid-19 op landbouproduksie sal verminder,” sê Mathabatha.

Hy voorspel dat hierdie befondsing verligting sal bring vir meer as 1 000 boere in die provinsie.

“Nie minder as 2 500 boere in die provinsie vind baat by ‘n hulpverlening van R1,2 miljard wat deur die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling geïnisieer is.”

Paaie

Die premier het Sanral bedank vir die voltooiing van die Polokwane N1 verbypad.

Mathabatha het genoem dat daar konstruksie van talle paaie reeds hervat is, vandat sekere Covid-19-beperkings verlig is. 

“Die Limpopo Padagentskap sal ook verskeie paaie regdeur die provinsie onderhou, insluitend die vloedbeskadigde paaie regoor die provinsie.”

Watertoevoer

“Waterlewering aan ons mense bly hoog op ons agenda en daarom het ons tans menige infrastruktuurprojekte wat deur middel van die streeks-grootmaatinfrastruktuurtoelae befonds word. Ek sal binnekort ‘n vergadering met die Minister van Water en Sanitasie hê, sodat ons die struikelblokke in sommige projekte, soos die Polokwane grootmaatwatervoorsiening, kan oplos.”

Korrupsie 

Hy het korrupsie ten opsigte van beskermende persoonlike toerusting aangespreek.

“Toe hierdie skandaal breek, het ek die spesiale ondersoekeenheid dadelik uitgenooi om hul bevindings te ondersoek en aan ons terug te gee,” verduidelik hy.

Mathabatha sê hulle wag steeds vir die ondersoeke om afgehandel te word, maar dat die SOE en die Ouditeur-Generaal nie enige misdadigheid of wangedrag met betrekking tot hul verkryging van Covid-19 beskermende toerusting gevind het nie.

In samevatting, het die premier gesê: “As ons saamwerk, kan ons die Limpopo bou wat ons almal wil hê.”

Polokwane Observer sal in volgende week se uitgawe in meer diepte verduidelik hoe dit jou as inwoner gaan beïnvloed.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button