Local NewsNews

Goeie nuus vir Limpopo se damvlakke

Die saamgestelde damvlakke in die provinsie het met 2,3% verhoog en is tans op 88,5% wat 'n groot verbetering van verlede jaar se 70,7% is.

In die Departement van Water en Sanitasie se mees onlangse inligting oor die stand van Limpopo se damme, is daar positiewe nuus vir die provinsie.

Ebenezer dam het ‘n verdere 6,9% gestyg tot op 73,1% hierdie week. Laas week was die dam 6% voller as die vorige week se 60,2%. 

Dap Naudé het egter met 1,2% gedaal, maar is steeds op ‘n stewige 105%. 

Flag Boshielo dam het ook gedaal tot 101,4% hierdie week, teenoor verlede week se 103,3%.

Damme in die provinsie wat tans die 100% kerf verbysteek sluit in De Hoop, Glen Alpine, Hans Merensky, Klaserie, Luphephe, Magoebaskloof, Middel-Letaba, Mokolo, Nandoni en Tzaneen.

Doorndraai dam is tans op 34%; ‘n styging van 3,1% van verlede week se 30,9%. Warmbad dam het met dieselfde persentasie verminder tot 36,5%. 

Die departement se Woordvoerder, Sputnik Ratau, sê die verslag dui daarop dat die damvlakke in Limpopo aanhou styg.

“Hierdie is te danke aan onlangse swaar reën in die Vhembe distrik, veral in Musina. Dié reën het infrastruktuur soos paaie, huise en elektrisiteit beskadig,” het hy genoem. 

Ratau verduidelik dat daar positiewe nuus is vir die Polokwane watertoevoersisteem.

“Al het Flag Boshielo dam gedaal van 103,3% verlede week na 101,4% hierdie week, is die dam steeds propvol. Ebenezer in Groot Letaba, wat water aan die meerderheid huishoudings in en rondom Polokwane verskaf, is op 73,1% hierdie week, wat ‘n massiewe verbetering van verlede jaar se 25,1% is,” voeg hy by.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button