Local NewsNews

Polokwane boorling nou agter die skerms

Philip Nolte maak hom bekend in die Suid-Afrikaanse televisie- en filmbedryf en die stad kan opreg trots wees op dié talentvolle oud-inwoner.

POLOKWANE – Sy dramatalent het reeds tydens sy hoërskoolloopbaan aan Capricorn High School vlerke begin kry waarna hy aan die Universiteit van Johannesburg, BA korporatiewe kommunikasie studeer. Hy het ook sy honneurs in oudiovisuele kommunikasie voltooi.

“Ek was van jongs af lief daarvoor om stories te vertel. My ouers het my vroeg aan teater blootgestel. Dit het my gefassineer en onbewustelik iets in my wakker gemaak. As Oosskoolleerder was ek deel van kultuur en al het ek tennis gespeel was my hart in die uitvoerende kunste. Tydens my universiteitsdae het ek aan Sêr en ander konserte deelgeneem. My honneursgraad het my meer in die televisie- en filmindustrie se rigting gedruk en ek werk vandag nog meestal in die industrie,” sê Philip.

Philip se eerste professionele geskrewe program was Sterlopers waar hy deel was van die skryfspan. Hy het onlangs weggestap met die derde prys in die RSG Sanlam Radiodrama-kompetisie vir sy debuut radiodrama, Morgenster.

Morgenster is gebore tydens die grendeltydperk. “Ek het hierdie tyd vir introspeksie gebruik gesit en dink hoe Suid-Afrika post Covid-19 sou lyk. Ek het ‘n grys toekoms gesien. Op ‘n ander noot vra my ma die afgelope drie jaar vir my om deel te neem aan die kompetisie. Dalk het ek dit geskryf om haar stil te kry, maar toe geniet ek dit vreeslik. Ek het ook baie werk verloor en begin dink aan idees vir programme, soos Die Groenste Vingers, ‘n kookkompetisie, maar met blomme.”

Hy verduidelik sy gunsteling genre is ‘dramedy’ – drama en komedie in een asem. “Ek hou daarvan om mense se stories te vertel en probeer altyd om ‘n kyker iets te leer. My niche is televisie en film as skrywer, regisseur en inhoudsvervaardiging. Die kreatiewe kant van produksies maak my gelukkig. Die laaste projek waaraan ek gewerk het as een van die skrywers en van die regisseurs was op Swartwater. Ek het al baie kritiek ook gekry, maar dis deel van die kunste. Wanneer ‘n program goed ontvang word, glimlag ek van oor tot oor.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.

Related Articles

Back to top button