Eerste lot word ingeënt in Limpopo

Die Limpopo Premier, Stanley Mathabatha het vanmiddag die inentingsveldtog van gesondheidswerkers in die provinsie geloods. 

Die premier en die LUR vir Gesondheid, Dr Phophi Ramathuba, was by die Mankweng  Hospitaal as deel van Fase 3B van die Sisonke navorsingsimplementasie studie van die Johnson & Johnson Covid-19 entstof.

“Dit is ‘n historiese gebeurtenis vir ons almal dat ons met die inentingsveldtog kan begin. Ons is opgewonde om te sien hoe ons gesondheidswerkers eerste ingeënt word,” het Mathabatha gisteraand in ‘n persverklaring gesê.

Personeel van die Mankweng Hospitaal is deel van die groep gesondheidswerkers wat eerste die inenting ontvang. 

“Gesondheidswerkers werk die heeltyd hard daaraan om ons almal gesond te kry, met geen kommer oor hulle eie gesondheid nie. Ons is dankbaar vir ieder en elkeen wat uit hul pad uit gaan om vir pasiënte om te gee,” voeg hy by.

Die premier en LUR vir Gesondheid sal hiervandaan na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal beweeg, waar nog gesondheidswerkers ingeënt sal word.

Lees ook: [KYK] President en kie word ingeënt

Exit mobile version