[KYK] President en kie word ingeënt

President Cyril Ramaphosa en Gesondheidsminister, Dr Zweli Mkhize, het tesame met talle gesondheidswerkers, die entstof ontvang.

President Cyril Ramaphosa en talle gesondheidswerkers het vanmiddag by die Khayelitsha Distrik Hospitaal bymekaar gekom om ingeënt te word.

Ramaphosa het vroeër in ‘n verklaring gesê die eerste 80 000 dosisse van die Johnson & Johnson entstof, wat gisteraand in Suid-Afrika aangekom het, tans voorberei word vir verspreiding landswyd.

“Die entstowwe is reeds deur die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte onder die Sisonke-protokol goedgekeur. Die entstowwe sal spoedig aan alle provinsies versprei word,” het hy gesê.

Daar word verwag dat meeste inentingssentrums van vandag af gereed sal wees om hulle inentingsprogramme te begin.

Die verklaring noem die Johnson & Johnson entstof het verskeie proeflopies ondergaan, wat bevestig het dat dit veilig en effektief is om gesondheidswerkers te beskerm teen siekte en dood weens Covid-19.

Gesondheidsminister, Dr Zweli Mkhize het ook die entstof ontvang om “enige vrese wat mense mag hê, hok te slaan”.

“Ons het ‘n beroep gedoen op verskeie sektore en dele van die land, om ‘n voorbeeld te wees en die inenting te ontvang. Verskeie ministers, LUR’s en leiers van die samelewing, Godsdienstige stigtings en tradisionele leierskap in alle provinsies sal daarom die entstof ontvang,” voeg hy by.

Ramaphosa het weereens ‘n beroep op alle Suid-Afrikaners gedoen om ingeënt te word.  

Exit mobile version