Fondse benodig vir baba Zihan se operasie

Zihan is met 'n gesplete lip gebore en sy ouers, Chantel van Heerden en Kobus Young, samel geld in vir die nodige operasies.

POLOKWANE – Op 18 maande is Zihan van Heerden ‘n gesonde peuter met helderblou oë. Hy het skaars ‘n paar maande gelede begin loop en verken die wêreld sonder ‘n bang haar op sy kop. Zihan is egter met ‘n gesplete lip gebore en sy ouers, Chantel van Heerden en Kobus Young, samel geld in vir die nodige operasies.

Covid-19 kelder elke keer planne vir geldinsamelingsprojekte en dus sukkel Chantel en Kobus om die R110 000 in te samel wat nodig is.

Chantel is ‘n onderwyser en Kobus ‘n motorfietswerktuigkundige. Zihan is hulle eerste kind.

“Ek het eers op 28 weke uitgevind ek is swanger. Dit was ‘n gesonde swangerskap met geen probleme nie. Behalwe vir die gesplete lip, het hy ook ‘n probleem met sy sagte verhemelte.

“Dokters sal eers op vyfjarige ouderdom kan vasstel of dit wel ‘n probleem is, maar die dokters is nie nou vreeslik bekommerd daaroor nie. Tydens swangerskap het ons ‘n 4D-skandering laat doen, maar dit het gelyk asof daar ‘n skaduwee oor Zihan se lip val. Die dokter kon ook nie sien hy het ‘n gesplete lip nie. Dit was ‘n geweldige skok vir ons met sy geboorte.

“Hy eet en drink normaal, maar sukkel om met ‘n strooitjie te drink, al het hy dit al ‘n keer of wat reggekry.”

Zihan se ouma, Maggie van Wyk, vertel hy is ‘n vriendelike lyfie wat vir hulle net vreugde en blydskap verskaf.

“Hy is perfek vir my.”

Dr. Frikkie Redelinghuys het Zihan na Professor Kurt-Wilhelm Butow by Life Wilgers Hospitaal verwys. Alhoewel hulle nog nie al die geld het nie, gaan Chantel begin navraag doen oor ‘n datum vir die operasie.

Zihan se ouers het ‘n rekening vir enige geldelike donasies geopen.

“Indien enige iemand kan help met ‘n bydrae om Zihan se glimlag te help, sal ons as sy ouers julle ewig dankbaar wees.

“Julle kan met liefde vir ons julle nommer en e-posadres stuur, dan kan ons ‘n kontaklys bymekaar sit en julle op hoogte van sy vordering hou.”

Rekeningbesonderhede:

Zihan van Heerden

FNB

Rekeningnommer: 62847402980

Tak kode: 250655

Verwysing : Telefoonnommer

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group or Telegram channel.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version