Local NewsNewsUpdate

Dapper Naessia (13) uit hospitaal ontslaan

Naessia van Dyk (13) is met tipe 1 diabetes gediagnoseer en die gemeenskap het hulle harte en beursies oopgemaak om haar mediese kostes te dek.

POLOKWANE – Die 13-jarige Naessia van Dyk wat vroeër die week haar ouers en die stad baie bekommerd gehad het, na sy in die hospitaal opgeneem moes word, is ontslaan.

Naessia is met tipe 1 diabetes gediagnoseer toe sy slegs drie jaar oud was. Alhoewel die hospitaal nie ‘n vreemde plek vir haar was nie, was ‘n besoek aan die Pietersburg Provinsiale Hospitaal op 30 Oktober, nie so gewoon nie. Hierdie keer was sy reeds kritiek in ‘n diabetiese ketoonasidose (DKA).

DKA is wanneer daar ‘n oorvloed van suur in jou bloed is en kan gebeur wanneer jou bloedsuiker vir te lank te hoog is en daar nie genoeg insulien in jou bloed is nie.

“Die dokters is nog onseker oor wat dit veroorsaak het. Ons het haar na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal geneem waar sy opgeneem is. Ons mag haar tans glad nie sien nie weens Covid-19 regulasies. Die kommunikasie oor haar kondisie was baie swak en ons is op Maandag, 2 November gebel en kon haar gaan haal na sy ontslaan is. Toe ons egter by haar uitkom, het sy oppervlakkig asemgehaal en ons het besef sy is nie gesond nie,” vertel haar ma, Annisha Schoeman.

Lees meer: Stap dié pad saam met dapper Naessia (13)

Naessia is na Mediclinic Limpopo geneem waar sy aangesterk het en op Vrydag, 6 November, ontslaan is. “Naessia was hierdie jaar twee keer in die hospitaal as gevolg van haar diabetes. Ons verkies om haar met die ambulans te neem sodat die mediese personeel haar so gou moontlik op ‘n drip en suurstof kan kry, om haar te begin stabiliseer. Die ander probleem is as jy sonder ‘n ambulans by die provinsiale hospitaal aankom, moet jy sit en wag tot hulle jou help.”

Annisha sê hulle is oorweldig met al die hulp en finansiële bystand wat hulle ontvang het die afgelope week. “Ons wil graag ons bedankings begin met alle eer aan God. Daar is soveel mense wat net ingespring en geld inbetaal het. Die hospitaalrekening is vereffen en ons kan net ons opregte dank uitspreek teenoor almal wat bygedra het. Ons wil nie enige iemand uitsonder nie. Dan wil ons elke persoon bedank wat ‘n bydrae gemaak het, hetsy dit finansieel, emosioneel of deur gebede is. Dit word opreg waardeer. Ons wil ook graag vir PLK Ambulansdienste vir hulle spoedige hulp bedank, asook ‘n spesiale dank aan Mediclinic Limpopo en hulle personeel vir hulle professionele en spoedige diens om ons dogter se lewe te red.”

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group.

Related Articles

Back to top button