Stap dié pad saam met dapper Naessia (13)

Naessia van Dyk (13) is met tipe 1 diabetes gediagnoseer en haar familie benodig R60 000 om haar mediese kostes te dek.

POLOKWANE – Naessia van Dyk (13) was slegs drie jaar oud toe sy met tipe 1 diabetes gediagnoseer is.

Sy het gereeld in die hospitaal beland weens komplikasies, maar toe sy op 30 Oktober weer opgeneem is, was dit anders. Hierdie keer was sy reeds kritiek in ‘n diabetiese ketoonasidose (DKA).

DKA is wanneer daar ‘n oorvloed van suur in jou bloed is en kan gebeur wanneer jou bloedsuiker vir te lank te hoog is en daar nie genoeg insulien in jou bloed is nie.

“Die dokters is nog onseker oor wat dit veroorsaak het. Ons het haar na die Pietersburg Provinsiale Hospitaal geneem waar sy opgeneem is. Ons mag haar tans glad nie sien nie weens Covid-19 regulasies. Die kommunikasie oor haar kondisie was baie swak en ons is op Maandag, 2 November gebel en kon haar gaan haal na sy ontslaan is. Toe ons egter by haar uitkom, het sy oppervlakkig asemgehaal en ons het besef sy is nie gesond nie,” vertel haar ma, Annisha Schoeman.

Naessia se ouers het haar na ‘n privaat algemene praktisyn geneem wat bevestig het sy moes nie ontslaan geword het nie. Hulle is aanbeveel om haar terug te neem na die provinsiale hospitaal, maar kon dit nie oor hulle harte kry nie.

“Ons kon haar nie terug vat na die plek wat byna haar lewe gekos het nie. Ons het besluit om Mediclinic Limpopo toe te jaag en daar het die dokters vir ons gesê dat sy is al so ver gedehidreer is, dat hulle nie ‘n aar kan kry vir haar drip nie.”

Die familie moes reeds R35 000 betaal en skuld nou ‘n verdere R60 000 wat hulle hoop om bymekaar te maak.

“Ons kom vandag met ‘n smekende hart na elkeen wat die boodskap lees, en vra of julle asseblief kan help met ‘n bydrae tot die hospitaal kostes. Ons weet nie hoe lank sy daar gaan moet bly nie, dit kan enige iets wees tussen vier dae en twee weke.”

Bydraes kan in die volgende rekening gemaak word:

Bank: FNB/RMB

Rekening Houer: Matthys Schoeman

Rekening Tipe: Easy Account

Rekening Nommer: 62717913067

Tak Kode: 250655

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group.
Exit mobile version