NewsSchools

[VIDEO] ‘Tyd om te gaan’ vir Pieties

Gerhard Maré en Chantel Wreyford het vir hulle mede-Pieties 'n spesiale lied, Tyd om te gaan, geskryf en gesing tydens hulle Matriek Vaarwel.

POLOKWANE – Jaarliks groet Hoërskool Pietersburg se gr.12-leerders die skool totsiens tydens hulle Matriek Vaarwel seremonie.

Vanjaar was dié seremonie op Vrydag, 16 Oktober gehou en het soos gewoonlik in die matriekblok begin waar daar ‘n briefie in PHS se posbus geplaas was. Hierdie briewe word volgende jaar tydens hulle eeufeesvieringe oopgemaak en gelees.

Hoofseun, Gerhard Maré en Chantel Wreyford het vir hulle mede-Pieties asook personeel ‘n spesiale lied, Tyd om te gaan, geskryf en gesing.

Hierna het die leerders deur ‘n erewag van gr.11’s tot by die skool se vierkant gestap. Diana van Niekerk het tydens haar afskeidstoespraak sewe waarhede wat sy geleer het, met die skool gedeel:

  1. Verwonder jouself aan die klein dingetjies in die lewe.
  2. Wanneer jy jou vreugde in die Here vind het jy ‘n onuitputbare bron van vreugde.
  3. Gee aan ander soveel jy kan. Om te gee maak jou gelukkiger as om te ontvang.
  4. ‘n Ondersteunende familie en liefdevolle gesin help jou om jou vlerke te sprei.
  5. Die onderwysers is die hart van die skool en maak die skool lekker.
  6. Vriendskap maak die lewe soet en die siel heel.
  7. Om die hoofseun as jou beste vriend te hê, maak van jou ‘n gelukkige mens.

Gerhard het na afloop van sy toespraak, ‘n gedig aan die skool voorgelees:

Die Groen, die Rooi, en die Blou van onthou. – Gerhard Maré

Ja, PHS, ek hoor die stemme oral om my

so trots

soos ons ons driekleurige trots bely.

As ek stap in die môregoud

op eeu oue stene

en die geel stil straal op die trappe

tot binne my Afrikaner bene.

Dis hier waar my wortels lê.

Dis wat ek van ‘n geseënde vyf jaar sal koester.

Want

Oor die sportvelde sal herinneringe reis

een stem, in ‘n duisend se gedruis.

Almal eenders, elkeen anders.

Saam die Biccardstraat sonsak

met God se hande oor ons dak.

Dis vandag wat ek die poort verlaat

‘vir die laaste keer my skooltas dra

Ek kyk terug en ek glimlag

op ‘n verlede en op ‘n eendag

en op daardie eerste kindwees skooldag

Dis vandag wat ek my kouse oulaas optrek

en my blywees masker aantrek

om die trane te trotseer vir die laaste laaste keer.

PHS

Ek los, hartseer, my seer hart hier by jou-

om elke Maandag in die vlae toe te vou

sodat hy die kreet sal onthou

geklee in groen, rooi en blou.

Per Aspera Ad Astra

My toekoms is op hierdie leuse gebou.

Na al die verrigtinge het die leerders die skoolkreet geskree en die gr. 12’s het deur die Poort van Kennis na die ‘toekoms’ gestap.

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or join our WhatsApp group.

Related Articles

Back to top button